Ware geloof (17).

Ek glo aan die vergewing van sondes.

Ons hoor in die Psalms: Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Welgeluksalig is die mens aan wie die HERE die ongeregtigheid nie toereken nie (Psalm 32 verse 1 en 2).

Op grond van dit wat die Here Jesus alreeds gedoen het en ons daarop antwoord met ek glo, kan ek bely ek glo aan die vergewing van sondes. ‘n Heerlike voorreg en ‘n seën, genade op genade, liefde bo ons begrip en verstand – die Here is gewillig om sonde te vergewe, gewillig om ons sonde te vergewe.

Meer nog, ons hoor ook in die Psalms – Hy vergewe en Hy dink nie meer daaraan nie: So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons (Psalm 103 vers 12).

Geen skuld en geen sonde is te groot of te swaar dat God dit nie vergewe nie.

Dit beteken egter nie dat die vergewing van God ons ‘n vrybrief gee dat ons kan sondig soos ons wil en dat God net sal bly vergewe nie. Juis omdat God ons vergewe, ontstaan daar by ons die brandende begeerte om uit dankbaarheid tot eer van God te lewe, die brandende begeerte om hoe langer hoe meer die sonde af te sterf. En in hierdie stryd het ons die vrymoedigheid om keer op keer die reinende krag van die bloed van die Here Jesus in te roep om te vergewe.

Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie! Wat al jou ongeregtigheid vergewe (Psalm 103 verse 2 en 3).