VSA onttrek alle troepe uit Sirië

Mark Esper

Kort nadat President Donald Trump aangekondig het dat die VSA se troepe uit Sirië onttrek word, het vrae ontstaan oor hoeveel troepe onttrek gaan word.

Die Amerikaanse Minister van Verdediging, Mark Esper, het egter bevestig dat al die troepe huiswaarts keer, wat beteken dat sowat 1,000 troepe die gebied sal verlaat.

Koerdiese woordvoerders sê hulle vol verraai deur die VSA wat sy magte onttrek, en sê die gevegte saam met die VSA teen die terroriste was dus nie ’n waarborg dat die VSA ook die Koerde sal beskerm teen aanvalle nie.

Die Amerikaanse besluit om te onttrek uit die noorde van Sirië het die deur oopgemaak vir Turkye om aanvalle uit te voer op die Koerdiese basisse.

Die Siriese Demokratiese Mag waarby die VSA magte betrokke was, is nou die teiken van Turkye, maar ook die teiken van die Islamitiese Staat wat vinnig gehergroepeer het en hulle weerwraak uitvier teen die Koerde.

Die Trump-regering sê egter die VSA moes nooit betrokke geraak het in die konflik van die Midde-Ooste nie, en die ingewikkelde stryd wat daar gevoer word is van geen direkte belang vir Amerika nie.