Uit my Kuierkombuis

So het ek grootgeword ………… daar is gekuier wanneer ons in Ouma se kombuis was.  Met ‘n tafel wat kreun onder ontbyt, middagete en natuurlik die vieruur middag koffietyd op ‘n Sondagmiddag!

Vandag is my kombuis ook ‘n kuierkombuis waar familie, vriende, kinders en kleinkinders kuier om die tafel.

Die eerste resep in die reeks,  is ‘n ou beproefde resep wat my Ma gemaak het. Terwyl dit in die olie bak,  is dit altyd oulik om te sien hoe daar soms sulke “wurmpies” deeg nog vorm tydens die gaarword proses.

VINNIGE VETKOEKIES

Bestanddele: 500 ml koekmeelblom                                             250 ml water/melk 10 ml  bakpoeier                                                          2 ekstragroot eiers 2,5 ml sout

Metode:

  1.  Sif die droë bestanddele saam
  2. Klits die eiers en die water saam en meng dit by die droë bestanddele tot ‘n gladde deeg.
  3. Verhit intussen sonneblomolie in ‘n kastrol op die stoof.
  4. Toets met ‘n klein skeppie van die deeg sodat die olie warm genoeg is …… die vetkoekie sal boontoe styg wanneer die olie gereed is vir bak.
  5. Skep nou mbv ‘n desertlepel,  van die deeg in die olie.  Die vetkoekies sal mooi uitrys en omdop sodra hulle begin gaar word.  Hou dit in elkgeval dop en help met ‘n spaan om dit om te keer sodat mooi bruin aan albei kante bak.
  6. Skep uit met ‘n gaatjieslepel in ‘n bak uitgevoer met kombuispapier.
  7. Bedien warm met regte botter,  goue stroop en gerasperde kaas.

Wenk:

**  Vir ‘n kleiner hoeveelheid kan die beslag gehalveer word en vir ‘n groter beslag kan die bestanddele vermeerder word.  (Veral wanneer die kinders en kleinkinders kom kuier moet daar genoeg wees!)

  • Vir die beslag soos in die bak op die foto,  het ek die beslag verdubbel.