Uit my Kuierkombuis

Ek het grootgeword met ‘n storie by ‘n resep.  In my Ouma se ou geskrewe resepteboeke was die naam van die gewer van die resep altyd geskryf.  Van die mense onthou ek nog en ander is minder bekend,  maar die resep het ‘n oorsprong gehad! 

My Ma het ons dan ook soms bederf met ryspoeding gemaak van oorskiet rys. So gebeur dit een jaar dat my Ma en Pa in die bed is met griep en die familie kom soos gebruiklik op pad wildtuin toe,  eers by ons oorstaan vir ‘n dag of wat.  Ek was pas in die hoërskool, toe die kosmaak storie op my afkom.  Rys, maalvleis en groenbone was op die spyskaart …………. en die volgende dag…………ryspoeding! 

Intussen het die tegnologie verbeter en ons kan ons mikrogolf ook inspan.

Ryspoeding

Voorverhit die oond tot 180ºC.

Bestanddele:
250 tot 375ml gaar rys
250 ml  witsuiker
500 ml melk
knippie sout
25 ml botter (regte botter bly maar die lekkerste)

6 ekstra groot eiers

5 ml vanieljegeursel

Metode:

Nou gebruik ons eers die mikrogolf. (Hierdie stap kan wel op die gewone stoofplaat gemaak word,  roer net voortdurend sodat dit nie aanbrand nie.)

 Voeg die gaar rys, suiker, melk, knippie sout en botter saam,  roer dit deur tot gemeng en verhit dit in die mikrogolf net tot voor kookpunt . (afhangende van die mikrogolf se sterkte,  so tussen 4 en 5 minute) 

Roer deur sodat suiker opgelos is in die mengsel.

Klits vervolgens die eiers en vanieljegeursel saam

Klits die eiermengsel by die warm rysmengsel in en giet dit in ‘n gesmeerde oondbak (krap die skuim ook alles in) **sien wenke

Strooi bietjie fyn neutmuskaat oor,  plaas die bak in die gewone voorverhitte oond en bak vir 25 tot 30 minute.

Bedien warm met ‘n draaitjie gouestroop/heuning en vars room.

Wenke:

**  Ek gebruik sommer my vierkantige corningware bak (2liter inhoudsmaat) waarin  die oorskiet rys was om die resep in te maak.  Dus gebruik jy net ‘n  ekstra mengbakkie vir die eiers wat geklits word. = minder skottelgoed! 😊

***  Die ryspoeding is ook heerlik om voor te sit as ‘n ligte aandete.

***  (Die donker ryskorrels in die foto is wilde rys wat ek saam met my gewone rys gekook het.  Vir die volgende plasing gaan ek moontlik meer inligting kan gee,  oor dié en ander gesonde ryssoorte.

Kuierkombuisgroete tot volgende keer!