Uit my Kuierkombuis

‘n Blikkie boeliebief  in jou koskas het al baie van ons uitgehelp wanneer jy vinnig moet kos maak. My tannie het so ‘n vakansiegereg gemaak met genoeg gebraaide uie,  blokkies gaar aartappel wat in blokkies gesny is en dan net voordat jy gaan opdien,  voeg jy ‘n blik opgesnyde boeliebief by die res.  Braai dit deurwarm en geniet met ‘n lekker skeppie blatjang!  My Ma het weer soms Sondagaande gebraaide uie en boeliebief op roosterbrood gemaak,  afgerond met skyfies piesang wat ook net voor bediening by die boeliebief en uie gevoeg word.

Die volgende gereg is egter ook heerlik vir ‘n Maandag na die naweek aandete bedien met ‘n slaai en broodjie of as ligte middagete gedurende die week. 

Boeliebiefgereg met pikante rissies
4 Snye brood liggies gesmeer met botter
Bietjie olie (om ui in te soteer.)
1 Groot ui, gekap
250 g  ontbyt speksnippers
½  kop ingemaakte pikante rissie repies
300 g (1 blikkie) goeie gehalte soutvleis (boeliebief), fyn gemaak (of gesny in klein blokkies)

5ml kerrie
5 ml  borrie
30 ml vars pietersielie, gekap
45 ml vrugte/perske blatjang
4 eiers
125 ml melk
250 ml cheddarkaas, grof gerasper (helfte in die beslag)
Metode:

**  Voorverhit die  oond tot 180°C en smeer of bespuit met kleefwerende middel ‘n vierkantige oondvaste bak.

1.   Verhit die olie in ‘n swaarboompan en soteer die gekapte ui tot sag en deurskynend.

2.  Voeg spek by en roerbraai tot gaar.

3.   Voeg ingemaakte pikante rissie repies by en roerbraai verder.

4.  Verwyder pan van hitte en roer soutvleis, kerrie, borrie, pietersielie, helfte van die kaas en blatjang by.

5.   Plaas ‘n laag gesnyde brood in gesmeerde oondbak en skep soutvleis bo-op.

6.  Maak bokant gelyk. Klits melk en eiers en giet dit oor die gereg.

7.  Versprei die res van die  gerasperde kaas bo-oor.

8.  Bak 30 min of totdat die  kaas bo-op goudbruin is.

Garneer met gesnipperde vars pietersielie en bedien dit saam met wortel en beetslaai.