Sjina: Europa moet verantwoording doen

Die moontlikheid dat die 39 oorledenes wat in ’n vragmotor gevind is, almal van Sjinese afkoms is, het skerp reaksie uit die kommunistiese staat ontlok.

’n Woordvoerder van die Sjinese regering sê indien dit Sjinese is moet die Europese lande ’n vorm van verantwoordelikheid neem vir die gruweldaad.

Paramedici en polisiebeamptes het 31 mans en 8 vroue se lewelose liggame in ’n vrag houer op ’n vragmotor gevind en ’n Ierse burger wat die voertuig bestuur het, in hegtenis geneem.

Die praktyk van onwettige immigrante wat op die wyse na Europa gesmokkel word, is reeds vir baie jare bekend alhoewel hulle selde deur die polisie vasgetrek word.

In die jaar 2000 is 58 Sjinese lyke gevind by die hawe van Dover, en net soos in die huidige geval, is dit bykans onmoontlik om te weet wat die dood van die mense veroorsaak het, en waarom word hulle steeds die land ingebring.