Perspektief: Wrang vrugte van verdeeldheid

’n Tema wat, ironies genoeg, nogal skerp reaksie en verdeelheid ontlok, is juis die verdeeldheid tussen verskillende denkrigtings onder ons volk – of meer spesifiek die opponerende groeperinge wat hulleself as Afrikanervolk beskou.

Oktober herdenk ons Krugerdag (of Heldedag); maar op 11 Oktober is daar ook die bitter herdenking van daardie dag 120 jaar gelede wat Engelse aggressie tot oorlog gelei het.

Naas die volksmoord in konsentrasiekampe en die verlies van vryheid, is die algemene verskynsel van volksverraad seker een van die grootste slae wat ons volk kon tref.

Eerlike beskouing van die motiewe en – skokkend – die selfregverdiging en selfverryking van verreweg die meeste verraaiers (wie insluit duisende joiners) toon ’n bykans algehele afwesigheid van wat ons sou kon noem gewetensbeswaar:

Deur die bank was eiebelang die beweegrede.

En presies dít is deur die destydse oorwinnaar aangegryp; in die eerste jare na die oorlog is ons land vergiftig met party-politiek en is eertydse leiers omgekoop met eerbewyse.

[September was die herdenking van die skeur-punt en dood van generaal De la Rey, wat sou uitloop op broeder-moord deur politici.]

Deur die dekades sedertdien het die verdeeldheid vererger, tot die laagtepunt van 1989-94; en byna ondenkbaar gaan die geesgenote van weleer se verraaiers en joiners vandag steeds van kwaad tot erger.

’n Voëlvlug oor die media toon nog ’n tragedie:

Met die uitsluiting van prominente rassiste en liberale weifelaars, is verreweg die meeste verguising van ons volksaak en -ideale uit sogenaamde “eie kring”.

Een na die ander volks-aksie word eers verguis, dan teengestaan, en welke dit oorleef word binnegedring en van binne gerysmier, net om dan in aksies teen ons volk gebruik te word.

Nieteenstaande dekades se ervaring, is die verdere tragedie die blinde goedgelowigheid waarmee standpunt-inname teen hierdie kwasi-konserwatiewes (verkeerdelik) as die bron van verdeeldheid geëtiketteer word.

Té veel mense – weens vreesagtigheid of gemaksug – verkies onbetrokkenheid, eerder as beginselvaste verwerping van hedendaagse manteldraaiers en paaiers.

Oktober 2019 moet ons dus daardie bitter dag – 11 Oktober 1899 – in herinnering roep;

Ons moet onthou dat daardie oorlog is wel verloor, maar weens barbaarse metodes én onderduimse verraad.

Ons moet daaruit die les leer dat ’n handvol gewillige bittereinders is van onskatbaar meer waarde as ’n massa weifelaars.

En indien ons die oorsprong van verdeeldheid verstaan, sal ons óók verstaan dat omdát die prys van vryheid so hoog is, moet ons ons vryheidsideaal beskerm teen weifelaars en verraaiers.

Dít is nie verdeelheid saai nie; dit is erkenning dat die dampkring van altyd prysgee en akkommodeer diegene is wat verdeeldheid saai, en selfbehoud eis dat ons hulle uit ons volkskring moet weer.

En die lesse moet ons aanspoor tot betrokkenheid en aktiewe deelname aan vieringe op 10 Oktober, kort daarna herdenking van die Hervorming en DV 16 Desember Geloftedag.

Want net betrokkenheid by ons volkseie organisasies sal hulle beskerm teen veraards-aanslae, hetsy van buite of binne eie geledere.