Perspektief: Ligte in die wapad

Die saad van eiebelang het in ons volksgeledere gedurende 1899 en 1902 die kanker van verdeeldheid laat posvat – verdeeldheid wat in die 1990’s tot tragiese omvang sou bloei.

En party-politiek en materialisme het ons samelewing (klaarblyklik onomkeerbaar) verslaaf gelaat aan daardie eiebelang – sodanig dat dit reeds vir etlike dekades die aanvaarbare lewensnorm geword het.

Daardie valse lewensnorm veroorsaak tans ‘n digte mis wat die lig voor in ons volk se wapad verduister.

Maar Oktober – Krugerdag, Heldedag, geboortedag herdenking nie net van Paul Kruger nie, maar van volksleiers soos Steyn, de Wet en de la Rey – bied vir ons duidelik ligte in die wapad.

Weliswaar is daardie ligte agter ons, maar kyk ons vir ‘n oomblik dankbaar terug oor die nalatenskappe van ons volkshelde, raak daar ‘n duidelike lyn sigbaar.

Draai ons weer na die toekoms, kan ons onsself én ons toekomsblik rig volgens daardie lyn;

en wanneer ons daardie nalatenskappe oor eeue heen in nabetragting neem, dan sien ons die geloofs-voorbeeld van ons voorsate, helde en ander – ‘n geloofs-uitsig wat ons in staat stel om deur die wasige mis van onsekerheid te tuur na die hernieude lig voor in ons eie, en ons volk se, wapad.

Daardie lig is te dankie aan dié Lig, geopenbaar deur die Evangelie waarvan ons volk ook eens eendragtige draers was, hier aan die Suidpunt van Afrika, waarvan ons weer eendragtige, dankbare en onbeskroomde draers moet word.

Byna soos die Gelofte-makers vooruit kon sien in hul geestesoog dat ongeag die uitkoms daar, die mis van onsekerheid vir elke gelowige volk lug tot uitkoms selfs in die donkerste ure.

Omdat wyle Staatspresident Stephanus Johannes Paulus Kruger so uitstaande voorbeeld was, is dit gepas dat ons ons volkshelde herdenk juis op die herdenking van sý geboortedag.

Maar in erkenning vir Paul Kruger se voorbeeld, herdenk ons nie bloot ons volkshelde en hulle prestasies nie:

ons herdenk dat hulle aan ons volk gegee was uit die hand van God, deur Sý genadige beskikking oor ons vol ken volks-groei.

Saam met die Paul Kruger fokus van 10 Oktober, gedenk ons ons voorgangers in owerheid – Kruger, Hertzog, Malan, Strijdom en Verwoerd; gelowige herders Totius, vader Kestel en hul medewerkers, ouderlinge soos Sarel Cilliers en talle Godvresende herders; kultuur-helde uit wie se hand literêre en kunsskatte ons volkshuishouding steeds versier; onderwysers en akademici, sakelui wie in vergange jare onbaatsugtig gewerk het om die SA ekonomie meer as een maal op te bou uit die mislukkings van gierigheid.

En wanneer ons ons volkshelde in hierdie gesindheid herdenk, roep dit ons opnuut om te besin of ons die voorbeelde van daardie voorgangers waardig navolg  –  of nie…

Ons kan nie bloot volstaan met persoonlike introspeksie en belydenis nie;

ons móét as volk, in volksverband, onder ons huidige gelowige leierskap, ons volksgedrag in oënskou neem.

Dit is tans uiters uitdagend – juis weens die vernietigende impak van party-politiek en eiebelang is daar geen nasionale Christen-leierskap meer onder ons mense nie.

Met des te meer dankbaarheid kan ons ons wel wend tot plaaslike leiers, in ons oorblywende gelowige gemeentes, skole en gesinne oor ons land.

Laat ons daarom ons plaaslike volkseie geleenthede en instansies opnuut sterk maak met aktiewe steun en deelname.