Parlementslede kortwiek Hong Kong leier

Leier Lam

Parlementslede van die pro-demokrate in Hong Kong het die kommunisties gesinde leier, Carrie Lam, gekortwiek deur haar so baie in die rede te val dat sy nie haar toespraak kon klaarmaak nie.

Sy moes noodgedwonge ’n belangrike toespraak oor haar jaarlikse beleidsake kanselleer omdat die parlementslede soveel tussenwerpsels gemaak het dat sy gedwing was om verskoning aan te bied en dit nie kon klaarmaak nie.

Die verset teen die Sjinese en hulle beheer oor die stad se bestuur het die afgelope vier maande tot gevaarlike konflik vlakke beweeg waar polisie en aktiviste gebots het.

Carrie Lam was verplig om haar toespraak op video vas te le en so haar beleidsake kon oordra aan diegene wat daarna wou luister.

Lam kry hewige teenstand van die pro-demokrate sedert sy maande gelede probeer het om ’n wet deurgevoer te kry wat sou bepaal dat alle hofsake in kommunistiese Sjina se howe onder kommunistiese wette hanteer sou word, wat die stad in opstand laat kom het en sedertdien in oproer verval het wat ook gelei het tot ’n afgradering deur die grootste graderings agentskap.