Oproep tot water besparing

Ernstige oproepe word gedoen vanuit owerheidsweë om meer water te bespaar aangesien die reën wegbly en die damvlakke gevaarlik vinnig gedaal het.

In die afgelope weke het die Transvaal en Vrystaat ’n lang uitgerekte hittegolf beleef, wat die waterverbruik skerp laat styg het en die verdamping in die groot opgaardamme veel vinniger was as wat voorspel is.

Met die Vaaldam wat reeds onder die 50% van sy kapasiteit is, en ander damme so min as 20% aan inhoud het, bestaan daar rede om bekommerd te raak.

Die invloei van water uit die Lesotho Hoogland is tydelik gestaak om noodsaaklike onderhoud te doen aan die tonnels. Die verwagting is dat die instandhoudingswerk eers teen die einde van November afgehandel sal wees.

Voorspellings dui daarop dat die sentrale binneland nie goeie reënneerslae kan verwag voor die einde November nie, wat beteken dat waterskaarste kan intree.