Oktober is Krugermaand

Verskeie jare gelede het ’n beeldradio advertensie uitgebasuin: “Oktobermaand is weer suiwelmaand, van die môre tot die aand.” Alhoewel melk en kaas in elke Boere-dieet hoort, is Oktobermaand veel meer as dit, veral aan die van ons wat getrou is an ons taal en kultuur.

Oktobermaand is Krugermaand. Hierdie maand is vernoem na een van die groottes in ons volksgeskiedenis, President Paul Kruger, of dan Oom Paul, soos hy algemeen in die volksmond bekend staan. President Kruger is op 10 Oktober 1825 gebore. Hierdie dag was ook in die verlede ’n openbare vakansiedag, genaamd heldedag, waar hulde gebring was aan die vele helde wat ons as volk opgelewer het.

 In Krugersdorp, die dorp wat die naam van hierdie unieke man dra, is Oktober veral spesiaal. Daar word jaarliks ’n Krugerfees by die Paardekraal monument gehou om hulde aan hierdie groot gees te bring. Omdat die 10de nie meer ’n openbare vakansiedag is nie, word die fees die Saterdag naaste aan die 10de gehou.

Die Paardekraal Verkenners sorg ook dat die standbeeld van oom Paul met sy ampserp versier word op die aand van die 9de. Krugersdorpers is al gewoond daaraan om oom Paul so getooi te sien vir sy verjaarsdag.

Hierdie jaar word die verrigtinge op Saterdag 12 Oktober gehou. Die program vir die dag sien as volg daar uit:

10:00 Opening

10:15 Vaandelparade

10:30 Prosessie na Paul Kruger standbeeld

11:00 Historiese oorsig

11:30 Vertrek terug na Paardekraal

12:00 Bring en braai

(Pap, sous en vure word voorsien)

Daar is ook geleentheid om te kampeer by die monument gedurende die naweek teen ’n koste van R100 per staanplek. Vir meer inligting kan Johan van Wyk gekontak word. 082 577 4091

 Ons hoop van harte om die volk daar te sien.