Noord-Korea moet kernprogram stop

Die vyf Europese lidlande van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad het ’n dringende beroep gedoen op Noord-Korea om “konkrete stappe” te neem om sy kernwapens en ballistiese missiel program te staak.

In ’n gesamentlike verklaring wat uitgereik is na ’n geslote deur vergadering van die vyftien lidlande in die Veiligheidsraad, is versoek dat die kernprogram van Pyongyang beëindig word.

Die Veiligheidsraad vergadering het gevolg nadat Noord-Korea aangekondig het dat hy nog ’n suksesvolle lansering van ’n ballistiese missiel uitgevoer het vanaf ’n oorlogskip.

In die verklaring word weer verwys na die Skiereiland se oortreding van die Veiligheidsraad se resolusies in die verband, maar dit wil voorkom asof die leier, Kim Jong-Un nie veel kommer het oor die VN besluite nie.

Alhoewel die Europese lidlande ook daarop aangedring het dat die Veiligheidsraad sy resolusies in stand hou en toesien dat dit nagekom word, is dit noodsaaklik dat die sanksies teen Noord-Korea gehandhaaf word.