Motor rubriek – Volkswagen Polo TSI Trendline

Die nuwe Volkswagen Polo Trendline is wel die basiese model maar die manne met die “witjasse” het soos in die verlede deeglike ontwerp werk gedoen.

Die Polo is oor die algemeen ‘n baie gewilde voertuig en oral waar jy ookal mag beweeg op die pad, is daar altyd een sigbaar.

Van voor tot agter het daar veranderings plaasgevind. Langs die kant is die bakwerk verstewig deur ‘n bykomende lyn by te bring wat strek van voor tot agter tussen die voorste flikkerligte en die agterligte en dit beklemtoon die grasieuse lyne van die kant. 14 duim staal wiel doppe wat die indruk skep dat dit allooi wielnawe is, trek dadelik die aandag.

Wanneer die kragbron van naderby besigtig word besef ‘n mens dat die werkverrigting van ‘n hoë standaard is. Dit is interessant om die tegniese spesifikasies van die drie silinder, 999 kub. sentimeter kragbron met sy teenstanders te vergelyk! Aldus die vervaardiger is die wringkrag beskikbaar teen 2000 o.p.m. 175 Nm en die krag is 70 kW teen 5000 o.p.m. ‘n 5 spoed handratkas hanteer die krag oorbrenging na die voor wiele en die CO2 vlak is 103 terwyl die brandstofverbruik volgens die vervaardiger 4,5 l/100 km is. Die turbo aanjaer sorg dat die werkverrigting van ‘n hoë standaard is en op die snelweg is die padgedrag iets om te waardeer.

Wanneer die bestuurder die deur oopmaak is die heel eerste wat opgemerk word die onderste gedeelte van die stuurwiel wat plat is. Dit verseker dat daar met gemak agter die stuurwiel ingeskuif kan word. Die middelste gedeelte van die stuurwiel huisves ‘n lugsak en dan is daar verskeie skakelaars op die stuurwiel aangebring met duidelik leesbare tekens by. Deur die boonste gedeelte van die stuurwiel is die instrumente duidelik leesbaar en toon dit ‘n omvattende hoeveel inligting aan soos byvoorbeeld snelheid, brandstofverbruik en nog talle ander inligting. Die rathefboom pas gerieflik in die palm van die linkerhand en die rat skakeling vind seepglad plaas. In die middel van die instrumentpaneel is die aanraakskerm en verskeie ander handige beheer skakelaars vir die toerusting. Aan die buitekant van die motor is daar verskeie sensors aangebring wat behulpsaam is met byvoorbeeld wanneer daar geparkeer moet word.

Met al die verstellings van die sitplek is dit moontlik vir die bestuurder om ‘n gemaklike sit posisie in te neem. Vir die voorste en agterste passasiers is daar meer as genoeg plek en selfs vir passasiers met lang bene, is daar plek.

Van voor gesien skep die motor die indruk van hier is ‘n motor gebou vir die lang pad terwyl vir die stad en dorps gebruik staan dit vir geen ander motor ‘n milimeter terug nie. Tussen die hoofligte is daar ‘n chroomstrook met die bekende Volkswagen kenteken in die middel van die sierrooster terwyl kolligte laer af aan die buitenste hoeke gemonteer is. Die lang, dwars luginlaat sorg dat die kragbron verkoel word met ‘n dun chroomstrook om die onderkant van die sierrooster af te rond.

Stap ‘n mens om die motor is die agterligte op so ‘n wyse gemonteer dat dit duidelik sigbaar is selfs van die kant af. Die antenna vir die radio is op die dak gemonteer met ‘n klein drukvlerk wat deel vorm van die agterste deksel.

Wanneer die deksel oopgemaak word is daar pakplek vir ‘n redelike hoeveelheid bagasie en daar is genoeg sagte beskerming aangebring dat bagasie nie die binnekant kan beskadig nie.

Die nuwe Polo bevat veiligheidstoerusting wat verseker dat ‘n rit so veilig moontlik plaasvind. ABS remme met alle hulpmiddels is standaard en die hoofligte is LED ligte wat verseker dat ‘n rit in die nag aan alle veiligheids vereistes voldoen. Binne in die motor is daar op strategiese plekke lugsakke aangebring wat hulp en beskerming verleen wanneer die voertuig byvoorbeeld in ‘n botsing betrokke is.

Hierdie is ‘n droom motor en u kan dit gerus op u aankoop lys plaas wanneer u ‘n ander motor wil aanskaf in hierdie grootte.