Motor rubriek – Nissan GT-R

Sedert die verskyning van die Nissan GTR gedurende 2007, was en is dit steeds een van my persoonlike voorkeur motors – veral die blou kleur motor!

Wanneer daar by ‘n Nissan verkoop lokaal verby gery word, word daar altyd gekyk of daar nie een op die vloer sigbaar is nie en wanneer dit wel opgemerk word, word dit besigtig.

Die 50ste herdenking model is nou beskikbaar en wat ‘n “plesier” is dit nie vir die oog nie.

Hierdie is ‘n voertuig wat soos goeie wyn is. Hoe ouer hoe beter. Nissan slaag daarin om te verseker dat dit onmiddelik die oog trek. Deur die jare is daar nie veel aan die bakwerk verander nie. Slegs die neus gedeelte het verskeie veranderings ondergaan en met die bekende GTR embleem in die middel van die sierrooster, laat dit geen twyfel watter voertuig dit is nie. Die swart afwerking van die sierrooster met die groot luginlate in die middel en die luginlate aan die buitekant van die voorste modderskerms waarin die kolligte gemonteer is, sorg vir ‘n besonderse prentjie.

Die hoofligte wat bestaan uit LED ligte sorg dat die pad oppervlakte gedurende die nag behoorlik verlig word terwyl die enjinkap en die sierrooster ‘n eenheid vorm. Op die enjinkap self is daar luginlate wat behulpsaam is met die verkoeling van die 3,8 liter, V6 kragbron met twee turbo aanjaers wat in die “V” gepas is. ‘n Handige 408 kW is beskikbaar teen 6800 o.p.m. en die wringkrag is 632 Nm tussen 3300 en 5800 o.p.m. ‘n Ses spoed, dubbel koppelaar ratkas doen die krag oorbrenging na al vier wiele. Wanneer die enjinkap oopgemaak word, is min van die kragbron sigbaar want die afwerking is van hoogstaande gehalte. Na verneem word is dit instaat om van 0 tot 100 km/u te versnel in 2,9 sekondes en die topsnelheid is 315 km/u. Hierdie is m.a.w. nie ‘n “katjie” wat sonder handskoene kan aangepak word nie. Volgens ingeligte bronne is brandstofverbruik 11,7 l/100 km.

Van die sykant gesien is die sierlike lyne met die swart afwerking allooi wielnawe daarvoor verantwoordelik dat dit besonder vaartbelyn is en lyk. Die kant spieëls is dieselfde kleur as die bakwerk met die waarskuwingsligte wat ingebou is. Wanneer daar agter om die motor beweeg word, trek die eenvoudige dog sportiewe bou van die voertuig ‘n mens se aandag. Op die kattebak deksel is daar ‘n drukvlerk gemonteer wat deel vorm van die bakwerk terwyl die ronde agterligte ‘n mens se gedagtes laat terug gaan na die Nissan GT van toeka se tyd. Die vier uitlaatpype dra ‘n duidelike boodskap uit naamlik dat daar krag teenwoordig is. Volgens ontwikkeling wat aan die nuutste kragbron gedoen is, is daar 5% meer krag beskikbaar terwyl die krag en wringkrag onveranderd bly.

Wanneer die bestuurderkant se deur oopgemaak word en daar word ingeklim, voel ‘n mens dadelik tuis. Die kajuit is opgegradeer en binne gemak is nie afgeskeep nie. Dit is van hoogstaande gehalte en weereens is eenvoud die wagwoord. Verskeie instrumente voorsien inligting aan die bestuurder en is regvoor die bestuurder gemonteer. Die leerbedekte sitplekke sorg vir ‘n aangename rit en die binne-dak gedeelte is Alcantara afwerking. Van die instrumente sluit in enjin oliedruk, die brandstofverbruik, snelheid, die “boost” van die turbo aanjaers ensovoorts. Alle ander toerusting soos radio, lugversorger ensomeer is gepas terwyl op die middelste gedeelte van die stuurwiel is die GRT embleem gemonteer en verskeie skakelaars waarmee van die toerusting beheer word, is deel van die stuurwiel.

Alle veiligheids toerusting benodig, is voor voorsiening gemaak. Dit sluit in lugsakke, ABS remme en remhulp en alles wat daarmee saamgaan.

Na verneem word gaan Nissan Suid Afrika slegs 36 van die 50 ste herdenking voertuie ontvang en indien u een wil besit sal u noual reeds een moet gaan bespreek by u naaste Nissan handelaar voor die einde van 2019.

Alhoewel Nissan swaar leun op die reputasie van die vorige model, kan ‘n mens verseker wees dat hierdie ‘n motor is vir die fynproewer. Ai, sal darem graag tot ‘n vergelyk wil kom met my bankbestuurder!