Motor rubriek – Mahindra XUV 300

Die manne met die wit jasse by Mahindra moes deeglik huiswerk gedoen het voordat hulle die XUV 300 bekendgestel het.

Met die eerste oogopslag is dit duidelik dat hierdie voertuig ‘n sukses kan wees in die motor wêreld. Dit hoef nie terug te staan vir enige voertuig uit die Japanese stal nie. Hierdie sportnuts voertuig se afwerking is van ‘n hoë standaard en daar is seker gemaak dat op enige pad kan dit met die beste meeding.

Daar is redelik baie chroom werk op die sierrooster maar dit is nie oordoen nie en die chroomstroke vorm ‘n eenheid tussen die hoofligte en die hoofligte vorm weer deel van die voorste buffer. Op die buitenste gedeeltes van die buffer is die kolligte gemonteer en tussen hulle is daar mildelik gebruik gemaak van chroom om die onderste gedeelte van die luginlate af te werk.

Die deur handvatsels en tru spieëls is dieselfde kleur as die bakwerk en wanneer die deure oopgemaak word, is die eerste indrukke blywend.Jy word eintlik nader “geroep” om in te klim. ‘n Gemaklike sitposisie word maklik ingeneem en die stuurwiel voel tuis in die hande van die bestuurder. Op die stuurwiel is verskeie skakelaars aangebring wat toerusting mee beheer word en die rathefboom van die ses spoed handratkas pas gerieflik in die palm van die linkerhand. Rat skakeling geskied seepglad en die indruk word amper geskep dat hierdie nou-verhouding ratkas is. Die glad werkende, 1,5 liter, turbo aangejaagde diesel kragbron sorg dat die voertuig met gemak sy werk kan doen. 86 kW is beskikbaar teen 3750 o.p.m. en die wringkrag is ‘n handige 300 Nm teen 1500 o.p.m. Lae brandstofverbruik is een van die sterk punte van hierdie voertuig want na verneem word is die brandstofverbruik in die omgewing van tussen 4,8 en 6,5 l/100 km. Dit is verseker nie te versmaai nie.

Duidelik leesbare instrumente is regvoor die bestuurder gemonteer en alle inligting nodig is duidelik leesbaar op die instrumente. Die aanraakskerm is in die middel van die instrumentpaneel gemonteer en dit is moontlik om al die funksies met gemak te kan gebruik. Apple CarPlay en Android Auto funksies maak deel uit van die toerusting en van die toerusting sluit in radio, lugversorger elektriesbeheerde vensters ensovoorts. Elke keer wanneer die voertuig in tru rat geskakel word is daar ‘n stem wat verneem of daar hulp benodig word ten einde te verseker dat ‘n voorwerp agter die voertuig nie per ongeluk gestamp word nie. Vir die passasiers is daar meer as genoeg beenspasie en ‘n gemaklike sitposisie kan ingeneem word.

Op die snelweg of op grond paaie is die gedrag van ‘n hoë standaard. Daarvoor sorg onafhanklike Mac Pherson stutte op die voorwiele en ‘n wringstaaf met spiraalvere en skokbrekers op die agter wiele, sorg vir ‘n aangename rit op die snelweg. Vir gerief op grond paaie is daar ‘n stabiliteit beheer funksie en dit sorg dat die voertuig in ‘n reguit lyn bly beweeg selfs al gaan dit so effe rof. ABS remme met EBD en ESC hulp sorg dat die XUV 300 met gemak tot stilstand kan kom. Voor is geventileerde remskywe gepas en agter word soliede skywe ingespan. 215/55 R17 Bridgestone bande is op allooi wielnawe gepas en aan die agterkant is die afwerking van so ‘n aard dat dit dadelik aandag trek. Aan die onderkant is daar ‘n silwer kleurige plaat gemonteer wat dadelik die aandag trek terwyl die agterligte ‘n integrale deel vorm van die agter klap.Wanneer die agter klap oopgemaak word, is daar baie plek om met gerief bagasie in te laai. Daar is selfs plek vir boet en sus om te sit indien hulle so bietjie speelplek benodig.

Hierdie is die ideale voertuig vir moeder om die kinders mee skool toe te neem en ook om besoek aan byvoorbeeld die wildtuin te bring.

Om u te vergewis van die voertuig se kwaliteite kan u gerus u naaste Mahindra handelaar gaan besoek of dit op u aankoop lys plaas vir moontlike oorweging.