Kanadese premier verloor debat

Die Kanadese Eerste Minister het weer die onderspit gedelf in ’n televisie debat wat deur duisende van die land se kiesers gesien is.

Die leier van die amptelike opposisieparty Andrew Scheer, het premier Justin Trudeau gepeper en hom van bedrog beskuldig.

Scheer het gesê die premier is ’n bedrieglike persoon wat nie verdien om weer verkies te word in die algemene verkiesing van 21 Oktober nie.

Die konserwatiewe Scheer en die sosialistiese Eerste Minister, Justin Trudeau was die enigste twee politieke leiers wat aan die debat deelgeneem het, en die algemene siening is dat Trudeau weer die slegste daarvan afgekom het soos tydens die debat van ’n week gelede.

Die jongste meningspeiling toon egter dat die stryd tussen Sosialis en Konserwatis redelik gelykop is en dat die uitslag moeilik voorspel kan word.

Meningsvormers reken egter die twee uur lange debat het Scheer gunstig bevoordeel en word dit ’n groter moontlikheid dat hy die verkiesing kan wen.