Hong Kong treine staan stil

In reaksie op die Hong Kong owerheid se nuwe maatreël om die dra van gesigsmaskers in die openbaar te verbied, het die aktiviste ’n massa optog gehou wat die interstedelike treine tot stilstand gebring het.

Die stadsowerheid was genoodsaak om die treinverkeer Saterdag te staak weens die aksies van aktiviste wat beswaar het teen die nuwe maatreël oor maskers.

Die kommunistiese regering het ’n ou regulasie van die koloniale tydperk weer ingestel wat bepaal dat niemand ’n gesigsmasker in die openbaar mag dra nie.

Dit het die duisende aktiviste weer in opstand gebring omdat hulle ook maskers dra teen die traangas wat die polisie teen hulle gebruik.

Die massiewe interstedelike treindiens is die hele Saterdag ontwrig en kon geen treine beweeg nadat die owerheid beveel het dat treine nie met hulle normale vervoerdiens mag voortgaan nie.

Die sentrale sakegebied van Hong Kong was sedert Vrydag en die naweek in chaos gedompel toe duisende inwoners met slagspreuke soos “Hong Kong verwerp die owerheid” uitgeskree het.