Dit is barbaarse wreedheid

’n Vragskip wat in die hawe van Oos-Londen aangedoen het, is ’n permit toegestaan om 60,000 skape na Koeweit te vervoer.

Die Al Shuwaikh vragskip sal die diere vir drie weke op die oop see vervoer onder uiters haglike omstandighede van min kos en min water indien enige.

Die Transnet hawe woordvoerder, Terry Taylor,  het bevestig dat ’n permit toegestaan is om die duisende diere op hulle tog na die dood te vervoer.

Die Diere Beskermings Vereniging (DBV) het ’n dringende versoek tot die owerhede gerig om die toekenning van ’n permit te heroorweeg.

Tydens ’n vorige geleentheid in 2017 het dieselfde vragskip diere vervoer, en is daar gemiddeld 37 diere elke dag dood op die skip. ’n Jaar later, in 2018 het die skip ook ’n vrag diere vervoer, en toe is ’n gemiddelde van 20 diere per dag dood weens hitte, honger, en dors. Die diere moes 30 dae lank op die skip deurbring in uiters haglike omstandighede.

Die vragskip is wel gebou om lewende hawe te vervoer, maar kenners reken die wrede manier van mishandeling behoort internasionaal belet te word.