Die stryd om mag woed in Sirië

President Tayyip Erdogan het die Amerikaanse President Donald Trump daarop gewys dat hy nie gehoor sal gee aan oproepe om ’n vuurstaking in die noorde van Sirië nie.

Hy sê Turkye sal nooit aan so ’n versoek voldoen nie, en is ook nie bereid tot enige onderhandelings met die Koerde van die gebied nie.

Te midde van verskeie lande se versoeke dat Turkye sy gruwelike aanvalle op die Koerde moet staak, het president Erdogan slegs opdrag gegee om sy aanvalle te verskerp.

Selfs die aankondiging van Amerika dat uitgebreide sanksies teen Turkye ingestel word, het die Turkse staatshoof nie afgeskrik nie en het bevestig dat die Koerde as ’n terroriste groep beskou word en derhalwe sal die Turkse Weermag volhou om aanvalle uit te voer noudat Amerika sy troepe onttrek het.

Koerdiese leiers het hul teleurstelling uitgespreek oor die Amerikaanse verraad nadat hulle die VSA gehelp het om teen die Islamitiese Staat terroriste op te tree.

Intussen het die Russies gesteunde Siriese Weermag ook na die gebied beweeg in ’n poging om beheer te neem van die noordelike streek, en kan konflik tussen Siriese magte en die Turkse Weermag losbars.