Die eerste reël van oorlewing

Ons stel ’n advertensie bekend van hierdie nuwe rolprent. Dit word as ’n gesamentlike inisiatief tussen die vervaardiger en Die Vryburger aangebied aangesien onses insiens dit die geweld in die land en die individuele morele dilemma waarmee ons te kampe het, so goed daarin uitgebeeld word.

Die persone wat die film gemaak het, is Boere-Afrikaners en het as kunstenaarsgroep besluit om hulle deel vir die volksaak te doen en nie vir elke Jan-Rap en sy Lieplappermaat nie.

Elke sent wat vir die film se vervaardiging gebruik is, het uit hulle eie sakke gekom. Buitendien, as jy vandag ’n trotse Boere-Afrikaner en kunstenaar is, word jy deur die hoofstroom media verag. Aan die ander kant wil jy as ’n trotse Boere-Afrikanerkunstenaar ook nie jou pêrels vir die swyne voer nie.

Aangesien daar nie meer teaters, stadsale of selfs skoolsale en genoeg kerksale geredelik beskikbaar is vir enige aanbieding wat iets positief en inspirerend vir die konserwatiewe en behoudende Boere-Afrikanervolk aanbied nie, het die vervaardigers Die Vryburger en ander behoudende organisasies genader om hierdie film onder volksgenote te versprei.

Daarom is ons opreg dankbaar vir volksgenote wat iets met hulle talente en geld gedoen het om ons in hierdie stryd by te staan.

Die ooreenkoms met die filmmakers is dat indien 5,000 DVD’s voor die einde van die maand verkoop word, ontvang Die Vryburger ’n donasie van R150,000; slaag ons daarin om 10,000 te verkoop, kry ons R300,000 in ons bankrekening.

Hierdie finansiële inspuiting kan ons help om die stryd voort te sit.

Kan ons vra dat elkeen wat kan, sommer dadelik die DVD bestel en dan 10 ander persone kontak om dieselfde te doen; en daardie 10 persone ook te oorreed om self ook 10 ander persone te kontak.

Intussen wil ons, ons opregte dank oordra aan Gustav Venter en sy span. Saam kan ons ’n lang pad loop.