Die ANC se nuwe “struggle”

Die dae om te brand en te moor omdat hulle nie van apartheid hou nie, is verby en die struggle is oor, danksy die papbroekige optrede van die NP van weleer.

Die nuwe “struggle” is veel meer ingewikkeld – dit beheld glo om die verbrokkeling in die ANC te keer, maar as die “struggle” sou slaag en ’n oorwinning weer behaal is, is die ware stryd nog lank nie verby nie.

Dit is Ramaphosa en sy kabinet wat die nuwe “struggle” moet wen om te keer dat Suid-Afrika nie ook soos Zimbabwe lyk nie, want dit is vinnig oppad daarheen, se ingeligte waarnemers.

Die president se bedel-tog na Londen is gemik om mense te oortuig om die dom ding te doen en groot beleggings na Suid-Afrika te neem met die risiko om alles te verloor.

’n Ekonomiese deskundige het aan “Die Vryburger” gesê die kanse dat groot beleggings sal kom is so goed as om mense te laat lewe op die son.

Ramaphosa se stryd is velerlei, en voor hy ’n noemenswaardige belegger na die land sal lok, moet ’n paar dinge eers gedoen word.

Hy moet afsien van sy party se arbeidsbeleid van swart bevoordeling; hy moet ’n veel beter plan tot uitvoer bring om Eskom reg te ruk; hy moet toesien dat geweld drasties afneem en korrupsie uitgeskakel word; hy moer sien dat die gesondheidsdienste weer op Eerstewêreld standaard kom soos wat dit was; hy moet sorg dat die munisipaliteite se dienslewering weer op die hoogste vlak is en die bankrotskap uitgewis is.

As hy dit gedoen het tot bevrediging van die welvarende beleggers van die wêreld, kan hy daarop reken dat daar tog enkele beleggers sal opdaag, het hy gesê.