Britte dreig EU met Brexit

Brittanje sal ’n aggressiewe houding inneem teenoor die Europese Unie oor die Brexit verskille en sal ook veiligheid samewerking terughou om die EU te oortuig dat verdere vertragings gestop moet word.

Met sowat drie weke oor voor die gestelde datum van 31 Oktober alvorens die Verenigde Koninkryk die EU verlaat, bly die proses van Brexit ’n onduidelike en duistere proses van onsekerheid vir Londen sowel as vir Brussel.

Die EU het die laaste voorstelle van Boris Johnson van die hand gewys, en daarmee eintlik die deur vir verdere onderhandelings toegeklap.

Waarnemers sê die Britse Parlement het hulle op sleeptou laat neem deur die vorige Eerste Minister, Theresa May, te druk om haar bedanking in te handig, en nou vorder Johnson geen steek verder as wat Premier may beding het nie.

’n Woordvoerder van die Britse regering het weer bevestig dat indien die EU nie ’n nuwe ooreenkoms wil aanvaar nie, die Verenigde Koninkryk uittree op 31 Oktober sonder ’n ooreenkoms.