Beleggings waardig?

Die president van die ANC regering het bekendgemaak dat hy na Londen vertrek met die doel om beleggings te kry sodat die enorme werkloosheid omgekeer kan word en Suid-Afrika gered word van algehele finansiële ondergang.

Die optrede van president Ramaphosa kom nadat sy adviseurs hom daartoe beweeg het in die hoop dat die krisis om nog verder afgradeer te word na rommelstatus, dringend afgeweer kan word.

Sonder om die uitslag van sy sending vooruit te loop, is daar ’n aantal belangrike aspekte wat nie uit die oog verloor moet word nie, wat ook die besliste resultaat van die besoek sal bepaal.

Ten eerste het Ramaphosa kort nadat hy president geword het, aangekondig hoeveel miljarde rand se beleggings oppad is na Suid-Afrika, en hoe dit die land se werkloosheid en finansiële probleme gaan verminder.

Dit is twee jaar later, en geeneen van die groot beleggers het hulle belofte nagekom nie, uit vrees vir die grondgryp regte wat uiteindelik ook hulle eiendom kan nasionaliseer soos wat in Zimbabwe die geval is.

En nou kom ’n tweede poging om beleggers te lok, want die eerste poging was met beleggers wat maar net nie die president wou ontmoedig nie, maar nooit van plan was om hulle geld te waag in ’n plek waar gereelde stakings, onbillike looneise, onbillike indiensnemings praktyke, swart bevoordeling, en onbekwame asook ongemotiveerde werkers as geelwortel moet dien.

Die tweede poging se scenario verskil nie van die eerste poging nie, en almal staan en kyk na die land wat eens op ’n tyd die beste beleggingsmoontlikhede ter wêreld gebied het.

Daar was ’n geelwortel wat veel anders gelyk en gesmaak het. Die groeikoers van 6% was aanloklik, arbeidsonrus was onbekend en stakings ongehoord want alles het goed verloop. ’n Span werkers in Suid-Afrika wat weier om te staak, was die heerlikste lokmiddel vir nyweraars en beleggers.

Korrupsie was byna ongekend, en arbeidswette het oral goed gewerk want tuislande het net soos die Republiek, voorkeur aan sy eie burgers gegee.

Dit wil dus lyk asof die president eers sy huis in orde moet kry voor hy iewers in die wêreld geld kan gaan bedel.