Barcelona word ’n slagveld

Botsing tussen die separatiste van Katalonië en die polisie het die afgelope naweek losgebars wat die deelstaat se hoofstad, Barcelona, in ’n slagveld verander het.

Militante elemente uit die geledere van die separatiste het in hulle derduisende met demonstrasies begin wat botsing met die polisie veroorsaak het.

Die pro-onafhanklikheid betogings wat aanvanklik vreedsaam begin het, is deur die polisie verhinder om voort te gaan met die optog, en dit het gelei tot geweld wat veral deur jongmense met maskers op die gesigte gelei is.

Die optog wat later beweeg het na die hoofkwartiere van die polisie in die stad, was later so gewelddadig dat die polisie met traangas, rubberkoeëls en waterkanonne moes optree.

Separatiste eis ’n referendum oor onafhanklikheid van Spanje, en verwag ook van die Spaanse regering om hulle 12 leiers uit die tronk vry te laat wat tronkstraf opgelê is na die mislukte onafhanklikheidsverklaring van twee jaar  gelede.