APK: Reaksie op die NG Kerk se vreemde besluit

In ’n verklaring deur die Sentrale Kerkekommissie van die AP kerkverband oor die besluit van die NG Kerk oor verhoudings tussen selfde geslag mense, het die AKK ’n sterk standpunt ingeneem en ’n  verklaring uitgereik wat soos volg lui.

Soos in 2015 het die AP Kerk opnuut met diepe hartseer kennis geneem van die onlangse besluit wat die NG Kerk se Algemene Sinode tydens sy 2019 sitting oor selfdegeslagverhoudings geneem het. Die besluit het weereens bevestig dat die NG Kerk nie meer onomwonde by die gereformeerde standpunt oor die Skrif as die geïnspireerde, duidelike, genoegsame en onfeilbare Woord van God staan nie.

Dit is duidelik dat ’n hermeneutiese aanslag waarin die hedendaagse konteks van die gelowige die deurslag gee in die verklaring van Bybelse tekste, die bo-toon voer. Dit word nie net deur die besluit oor selfdegeslagverhoudings bevestig nie, maar ook deur besluite oor gendergeregtigheid. Hiervolgens het die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake opdrag ontvang om “’n hermeneutiese raamwerk te ontwikkel om patriargale tekste in ’n genderneutrale wêreld op ’n geldige en verantwoordelike wyse te lees”.

Die skryf van ’n formulier vir die voltrekking van burgerlike verbintenisse, in weerwil van die NG Kerk se eie besluit dat die Bybel die huwelik slegs as ’n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou definieer, onderstreep die waarneming dat ’n bepaalde, konteks-gedrewe, hermeneutiek in NG kerkgeledere die pas aangee.

In die woorde van die moderator, ds. Nelis Janse van Rensburg, het die debat oor Skrifverstaan inderdaad in ’n “vasgelooptheid” vasgeval. Daar is nie progressie in die debat nie, omdat die twee standpunte duidelik onversoenbaar met mekaar is.

Ten spyte van die bewoording van die besluit oor selfdegeslagverhoudings, is die stukrag daarin van so aard dat dit die postmoderne, humanistiese standpunt ten opsigte van selfdegeslagverhoudings as die norm stel, terwyl die tradisioneel-gereformeerde standpunt bloot in die naam van ’n kunsmatige eenheid verdra word. Die besluit maak groot gedag van die feit dat die Sinode ruimte vir verskillende standpunte geskep het en dat die besluite nie op kerkrade en sinodes afgedwing sal word nie. Tog oordeel ons dat die besluit wel op so ’n wyse geformuleer is, dat dit in wese die tradisionele standpunt oor die huwelik en seksualiteit muilband.

Volgens punt 6 van die besluit, moedig die Sinode kerkrade aan om by die bevestiging van ampsdraers, sodanige lidmate se “doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe; toegang tot die sakramente; integriteit van verhouding; en geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie”. In punt 7 word ’n soortgelyke besluit ten opsigte van die legitimasie van teologiese studente geneem maar hier verdwyn die sogenaamde “ruimte” wat vir verskillende standpunte geskep word aangesien die besluit lui dat teologiese studente se doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe; toegang tot die sakramente; integriteit van verhouding; en teologiese- en bedieningsvorming in ag geneem moet word, ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie.

Soos ná die 2015-besluit, treur die AP Kerk opnuut oor die feit dat ’n eens gereformeerde kerk die duidelike boodskap van die Skrif oor die seksuele lewe van die mens verlaat het. Ons glo immers op grond van die Skrif die volgende rakende dié saak:

God het die mens as man en vrou geskep.

Die huwelik as lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is die enigste ruimte wat God gegee het waarin die seksuele sy van die mens kan gedy. Christus, die Hoof van die kerk waarin ons eenheid te vinde is, het immers self in Matthéüs 19:4-6 verklaar:

Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.

Wanneer die Bybel oor homoseksualiteit praat, is dit altyd in negatiewe terme. Die verweer dat die konteks aantoon dat losbandigheid die eintlike groot probleem was, oortuig glad nie. Dit is duidelik dat die homoseksuele dade self veroordeel word.

Homoseksuele praktyke en homoseksuele verhoudings moet daarom as in stryd met die wil van God afgewys word.

Mense wat teen homoseksuele gedrag in die krag van Christus worstel en dit nie wil uitleef nie, moet met groot empatie deur die kerk ondersteun en pastoraal begelei word.

Die nuwe besluit plaas die verhouding van die NG Kerk met die AP Kerk opnuut op ’n baie gespanne voet, aangesien die evangelie met die besluit in die gedrang kom. Ons roep die NG Kerk op om haar van hierdie heillose weg te bekeer en moedig behoudende lidmate van die kerk aan om hul gewetens slegs deur die Skrif te laat bind.

Ds. HSW Strauss

Voorsitter: Sentrale Kerkekommissie van die AP Kerk