APK: Hofuitspraak oor lyfstraf

’n Lywige verklaring deur die Sentrale Kerkekommissie en die

Kommissie vir Onderwys en Opleiding van die AP kerkverband lui soos volg:

Die afgelope hofuitspraak van hoofregter Mogoeng is sprekend van die drakoniese regeringstelsel waaronder Suid-Afrikaners tans leef. Die handhawing van wet en orde is die taak van ’n verantwoordelike regering (Rom. 13). Hierin misluk die huidige regering klaaglik. Met die onlangse uitspraak van die Grondwethof oor lyfstraf, word hierdie regering se magsbasis wederregtelik verbreed tot die reg om ouers oor kinderopvoeding voor te skryf.

Hierdie uitspraak bring die gesagsbalans in die huisgesin in gedrang. Wanneer ’n kind sy ouers se gesag misken of uitdaag, vervang hy ouerlike en godsdienstige gesag met sy eie wil. Hy stel sy eie wil en begeertes voorop. Dit druis lynreg in teen God se gesag waarvolgens kinders opdrag het eerbied aan hulle ouers te bewys. Die setel van gesag verander.

Vir Christene is gesag op alle vlakke (direkte óf bemiddeld), ten diepste die gesag van God Drie-enig. Ongehoorsaamheid aan sy gesag, beteken dat sy gesag ondergeskik aan ’n ander gesagsbron gestel word.

… want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel … (Rom. 13:1) Hiervolgens is alle gesag ondergeskikte gesag, hetsy in die huis, die skool, die staat, die kerk of watter verband ook al. Dit staan onder God se almag en is onderhewig aan die uitvoering van sy Woord en wil. Gelowiges moet daarom gesag erken solank dit ooreenstem met die geopenbaarde Woord van God. Daaruit het ons die opdrag om te heers en om aanspraak te maak op regsbevoegdheid ten opsigte van die opvoeding van ons kinders.

’n Hofuitspraak wat die setel van gesag van ouers na die staat oordra, dwing gelowiges om te moet kies tussen gehoorsaamheid aan God en die afgod van humanisme wat alle gelowe, kulture en menseregte wil akkommodeer. Dit kriminaliseer gelowige Christene weens hul erkenning van God se gesag. Gelowiges het egter opdrag om aan God meer gehoorsaam wees as aan mense (Hand. 5:29).

God stel wêreldse owerhede en wetstoepassers daar vir die goeie orde op aarde. Dit sluit ouers in. Dit is immer in die ouerhuis waar dissipline in goeie orde en die inoefening in reg en geregtigheid op grondvlak moet begin.

2   Aangesien alle gesagsliggame op aarde ondergeskik aan God se gesag is en nie self God is nie, het hulle beperkte gesag (Deut. 25:1-3) Hierdie punt is belangrik siende dat die Bybel in tye van vrede nie die groei en vooruitgang van ’n klas van professionele kriminele en onbetugbare, geharde oortreders toelaat nie. Die goddelose misdadiger word daarom in Bybelse reg nooit gesien as “’n agtergeblewene”, “’n benadeelde” of “’n verontregte” nie, maar as ’n misdadiger; ’n sondaar wat hom moet bekeer van sy verkeerde dade. In die oortuiging daartoe, word lyfstraf nie uitgesluit nie.

Menslike gesag staan onder God en is beperk. Daarom het die mens geen reg om die wil van God ooreenkomstig sy eie begeertes te interpreteer nie. Die wil van God kan daarom net verklaar word aan die hand van sy Woord. Die mens wat weier om die gesag van God se Woord en wet as bindend op homself te beskou, staan onder die oordeel van God.

Die Bybelse weg

Die beginsel van Bybelse tugtiging is lewensbelangrik. Spreuke 13:24 sê: Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.

Tug is nie eenvoudig straf nie

Daar is ’n verskil tussen tug en straf. Straf is vergelding, terwyl tug ’n liefdevolle handeling is wat ten doel het om terug te trek, te behou en te korrigeer. Tugtiging is dus nodig. Kinders het ’n sondige natuur. Ongehoorsaamheid is dus natuurlik, terwyl gehoorsaamheid geleer moet word.

Spreuke 13:24 stel dit dat tugtiging met die roede, die beste metode van tugtiging is. Ter wille van die erns van die tugtiging, moet ’n pak slae seermaak, maar dit mag nie aanrand nie. Die roede kon die vel laat brand, maar kon nie beserings aanrig wat nie binnekort sou verdwyn nie. Daarom dat Spreuke 23:12-14 onomwonde stel dat die roede nie jou kind sal doodmaak nie, maar hom eerder van die doderyk sal red.

Bybelse tug is dus nie mishandeling nie. Bybelse tug is ’n pak slae op die agterstewe met ’n plat hand (as die kinders nog klein is) of ’n voorwerp wat die vel brand, maar nie weefselskade aanrig nie. Om met die roede te tug, koppel ’n daad van ongehoorsaamheid aan direkte, en verkieslik onmiddellike, gevolge.

Die roede rek ook nie die straf uit nie. Dit bring die kind se sonde dadelik in verband met die gevolge daarvan. Dit is vinnig verby en ’n proses van berou en vergifnis kan voortgaan. Die roede leer persoonlike verantwoordelikheid, aangesien die tugtiging aan die persoon gevoel kan word.

Bybelse dissipline kan nie losgemaak word van ander Bybelse beginsels soos eerlikheid en regverdigheid nie. Daarom moet tugtiging konsekwent wees. Daar moet altyd getug word vir ongehoorsaamheid, nooit vir kinderlikheid nie.

3   Die patroon van opvoeding

Wanneer kinders terwyl hulle nog klein is, konsekwent getugtig word, sal dit al hoe minder nodig wees hoe ouer hulle word. Hulle begin met baie reëls en eindig met baie verantwoordelikhede. Dit beteken dat die meeste tugtiging in die eerste jare van ’n kind se lewe sal plaasvind, die jare waartydens goeie gedrag vasgelê kan word met die oog op verantwoordelike volwassenheid.

Die effek

Bybelse dissipline lewer wonderlike vrugte op. Spreuke 29:15 sê: Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ’n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.

Spreuke 23:15-18 verwys ook na ’n “wyse hart”, “lippe wat reg spreek”, “vrees vir die Here” en “hoop wat nie verydel word nie”, as vrug van Bybelse tugtiging. Die voordeel wat hierdie vrug van Bybelse tugtiging vir ’n ordelike samelewing inhou, kan nie genoeg beklemtoon word nie.

Gegewe die Bybelse getuienis en oproep tot lyfstraf as vorm van tugtiging, verklaar die AP Kerk:

 Dat God Drie-enig soewerein is en dat Hy die Oppergesaghebber in die lewens van Christene is.

 Dat die wil van God volledig in die Bybel aan ons geopenbaar word en dat onderwerping aan God se gesag, onderwerping aan die uitsprake van die Skrif vereis.

 Dat kinders primêr aan hul ouers toevertrou en onder hulle gesag geplaas is. Onder die gesag van ouers, wat ondergeskik aan God se gesag is, gaan die basiese en fundamentele opvoeding en onderrigting van ’n samelewing uit.

 Dat Christenouers die verantwoordelikheid het om hul kinders te beskerm, te versorg en op te voed na die eise van God se Woord.

 Dat wanneer die staat nie sy verantwoordelikheid nakom om ’n veilige ruimte te skep waarbinne Christenouers hul geloof vrylik kan beoefen en hul Bybelse verantwoordelikhede kan nakom nie, sulke ouers die verantwoordelikheid het om aan God meer gehoorsaam te wees as aan mense (Hand. 5:29).

Ds. JL Schütte

Direkteur van Kerkadministrasie