VSA Demokrate nou soos wolwe

President Trump

President Donald Trump gaan deur die Demokrate verskeur word soos wat wolwe dit sou doen, is die mening van ’n politieke ontleder.

’n Verbatim weergawe van die president se telefoniese gesprek met sy eweknie in die Oekraïne is vrygestel, en die Demokratiese Party wat reeds twee jaar probeer om Trump in ’n staat van beskuldiging te plaas, het nou bloed geruik.

Volgens die weergawe wat vrygestel is, het Trump die president van die Oekraïne versoek om  saam met die VSA se Prokureur-Generaal te werk om weer die ondersoek na Joe Biden se seun te hervat.

Die ondersoek kan beteken dat Joe Biden, ’n presidentskandidaat van die Demokratiese Party, wat tans die beste vaar om teen Trump te staan in die presidentsverkiesing, benadeel kan word.

Dit het die leiers in die Demokratiese Party laat besluit om voort te gaan met die proses om Trump in ’n staat van beskuldiging te plaas wat kan beteken dat hy as president afgesit kan word, maar dit kan hom ook benadeel in die presidentsverkiesing.

Bewerings word gemaak dat President Trump die President van die Oekraïne, Volodymyr Zelenskiy, subtiel sou afdreig deur hom daaraan te herinner dat die VSA finansiële hulp aan sy land verleen.