Vernietigende Bosbrande in Australië

Australiese brandbestryders voer ’n opdraande stryd teen meer as ’n 100 bosbrande wat aangehelp word deur sterk wind in ’n droë klimaat.

Die brande woed oor ’n wye gebied van twee deelstate en is buite beheer in Queensland en New South Wales, en die land se weerburo voorspel geen ren vir die gebied wat sou help om die brande uit te wis nie.

Die eerste brande het Saterdag ontstaan, en die droë toestande laat die vuur al vinniger versprei terwyl meer as 500 mense ’n verbete stryd voer.

Na berig word het 21 woonhuise reeds in die slag gebly, maar geen ongevalle is tot hede aangemeld nie.