Trump in staat van beskuldiging

Sedert President Trump van Amerika die verkiesing gewen het teen die liberale Hillary Clinton, het die wraak nie die Demokratiese Party verlaat nie, en is herhaalde pogings aangewend om die president in ’n staat van beskuldiging te plaas.

Vroeër was gepoog om te bewys dat hy met Rusland gekonkel het om die verkiesing te wen, en is ’n ondersoek teen Trump begin, wat tot frustrasie van die Demokrate, tot niks uitgeloop het nie.

Nou het die Demokrate ’n nuwe lat gekry, en dit is die telefoniese gesprek wat gevoer is met die president van die Oekraïne, waarin beweer word dat hy die Demokrate se kandidaat, Joe Biden, wou benadeel.

Verslae dui daarop dat president Trump die Oekraïne se finansiële hulp wou terughou indien die land se president nie bereid sou wees om ondersoek te doen na Biden se bedrywighede in die Oekraïne nie.

Met die aantygings ten President Trump het die Demokratiese Party begin met ’n proses om hom in ’n staat van beskuldiging te plaas, wat sou beteken dat die president uiteindelik onthef kan word uit sy amp.

Dit is egter ’n moeisame en lang proses wat meer as ’n jaar kan duur, en intussen moet die Demokrate gereedmaak om ’n presidentskandidaat te kies uit die 20 kandidate wat almal smag na die pos as president.

Joe Biden is volgens peilings, nog die voorloper, en as voormalige visepresident in die Obama regime, is daar ernstige verdeeldheid oor sy kandidatuur.