Trump gereed vir ontmoeting met Kim

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het bekend gemaak dat hy gereed is vir ’n opvolg ontmoeting met die kommunistiese leier, Kim Jong-Un, van Noord-Korea.

Die onderhandelinge tussen die twee staatshoofde was tot hiertoe mankoliekig en sonder enige positiewe vooruitsigte dat ’n ooreenkoms bereik gaan word wat di skiereiland se kernprogram sal beëindig.

Tot hede het die Amerikaanse president met kalmte die saak benader terwyl Kim uittartende optrede gevolg het.

Hy het telkens gedreig om die onderhandelings te staak omdat die VSA met Suid-Korea gesamentlike militêre oefeninge hou, en het reeds verskeie kere nuwe proewe met missiele uitgevoer.

Kim het pas bekend gemaak dat hy voorsien samesprekings met die VSA se president teen die einde van September, maar politieke ontleders reken die kans is uiters gering dat ’n ooreenkoms bereik sal word met ’n leier soos Kim Jong-Un wat ’n bewese rekord het van onbetroubare beloftes.