SAL teleurgesteld in vlieëniers

Die SA Lugdiens het sy teleurstelling uitspreek oor die moontlikheid dat sy vlieëniers tot ’n eerste staking in die geskiedenis, kan oorgaan.

In die lig van die moontlike staking, het die wankelende staatsbeheerde redery glo uitvoerende beamptes aangestel om advies en bystand te bied ingeval die staking realiseer.

Die nasionale uitsaaier berig dat die aanstellings gemaak is in die lig van die moontlikheid dat ’n staking deur die vlieëniers eersdaags ’n groot ontwrigting kan veroorsaak.

Die SAL se wankelende voortbestaan kan ’n finale nekslag toegedien word as vlieëniers werklik sou oorgaan tot ’n staking, wat ook die eerste sal wees in die bestaanstyd van die redery.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens Vlieëniers Vereniging is tans besig met ’n proses van werwing en ondersoek om vas te stel of ’n staking gehou moet word en wat die omvang daarvan sal wees.

Die vlieëniers is ontevrede omdat aanstellings en bevordering nie op grond van ondervinding of bekwaamheid gemaak word nie, maar wel dat velkleur as eerste oorweging dien.