Perspektief: My erfenis my trots

Is ons erfenis nog ons trots?  Meer akkuraat: is ons trots gesetel in opregte dankbaarheid vir die genade om oor ʼn erfenis te beskik.

Want erfenis – kultureel, histories, maar verál die vermoë om daaruit te leer en daarop te bou, is gawes van God!

Die Bybel verhaal telkens van die opdrag om “te onthou”; en juis in tye van nood word die volk opgeroep om “te onthou”.

Nie net moet hulle “onthou” nie, hulle moet dankbaar en verootmoedigend “onthou” – soos die gedenksteen Ebenhaëser: “tot hiertoe het die HERE ons gehelp.”

Maar die verhaal hier, by Mispa, soos by vele ander geleenthede in die geskiedenis, sluit óók in dat die volk hulle toevlug tot God Drie-enig alleen moet neem; wanneer God van Sy eer beroof word, selfs in die geringste, durf ons steun op ’n geloofserfenis uit ons eie geskiedenis?

Daarom, wanneer ons, ons erfenis in die volgende paar weke weer in oënskou gaan neem, laat ons veral onthou Wie ons daardie erfenis geskenk het.

Sekerlik die belangrikste erfenis is die Woord van God, die Christelike leer vervat in ons Formuliere van Eenheid en die kerksang van die Psalms (en ander Bybels-geestelike liedere) – hier te lande gebring in 1652, in menige wakis uitgedra oor ons land …

Later sou ons moedertaal – Afrikaans – hier ontstaan en groei, om binne enkele dekades vir ons die Bybel in ons eie taal op te lewer: lank voor ons in ons eie taal allerlei ander ideale nagestreef het, het ons voorsate die Bybel vertaal!

Taal – daardie gawe van God uniek aan die mens, ’n gawe van ryke verskeidenheid reeds vir millennia.

Bybel – ongetwyfeld die enigste kennisbron van suiwer waardes en norme, omdat dit vloei uit die Bron van liefde en geregtigheid; waardes en norme waarsonder geen samelewing gebou kan word nie.

Ons het ‘n erfenis wat opvoeding koester, sodat elke geslag kan vorder en vooruitgaan – opvoeding en onderrig wat histories setel uit die Woord en Formuliere, lank voordat kennis-vakke ter sprake kom.

Ons het ’n erfenis van kerk-wees – ecclesia in volle begrip, selfs deur die dekades wat ons volk deur die institusionele kerke van hul dag verwerp was.

“Kerk” is ten diepste gemeente, gemeenskap, mede-gelowiges waar een vir die ander sorg dra, onder die heerskappy van Christus.

Ons volk is egter nie immuun teen die boosheid van ons wêreld nie; onlangse geslagte het toenemend ons vaste erfenis verruil vir ’n fondasie van sand – dryfsand wat dreig om ons volk te verswelg.

Ons staan vandag ontbloot vir hierdie versuim; ons staan (by wyse van spreke) in die velde van die Oosgrens, van Vegkop en Natal:

gaan ons laer trek rondom ons erfenis?

gaan ons vas staan in geloof, ongeag die magte rondom ons?

Gaan ons terugkeer op die Quo-Vadis weg, en soos eens die dienskneg van Elisa, soos ons gelowige voorsate, besef dat die magte mét ons is meer as die magte teen ons?

Of gaan ons verbyjaag, die laer agterlaat op die vlaktes, ons erfenis agterlaat …