Perspektief: Lesse van ’n staatsman

6 September is ’n datum wat elkeen van ons na aan die hart lê.

In die woorde van ’n tydgenoot van Dr. H. F. Verwoerd:

“Ons vereer ons helde … oor hul geestelike erflating, hul voorbeeld en gelewerde volksdiens, die rigtinggewende padwysers wat hulle opgerig het.”

[Staatspresident C. R. Swart, 10 Oktober 1972]

In vandag se samelewing is doktor Verwoerd se invloed steeds tasbaar:

so geweldig omvangryk was sy nalatenskap, dat sy gedagtenis óf ongebreidelde haat ontketen, óf deur volksgenote in ere gehou word.

Omdat haas niemand neutraal staan nie, móét ons in hierdie tydsgewrig opnuut vra wat ons in 2019 kan leer uit die lewe van Hendrik Verwoerd.

Ons beleef tans die koue water van realiteit oor “Ramaphoria”; dit is duidelik dat die nuwe baasskap binne ANC-SA geledere klaaglik misluk, soos elke ander baasskap sedert 1989/94;

Die pleidooie dat SA moet terugkeer na die “gees van Madiba” het die verwagte ontnugtering gebring, slegs enkele maande na die algemene verkiesing.

Want sonder geloof of liefde … is mense-slagspreuke ‘n hol-klinkende metaal.

Dít is sekerlik die belangrikste les:

geloof-standvastigheid op elke lewensterrein, veral in diegene wie as leiers van hul tyd optree.

Sonder geloof, sonder die inbors wat opregte geloof bewerkstellig, is van leierskap geen sprake nie.

Liefde vir die eie wat respek koester vir ander, is die tweede les:

juis sy brandende volksliefde het doktor Verwoerd in staat gestel om Suid-Afrika te lei deur stormagtige tye, plaaslik én internasionaal.

Hy was in staat om tot groot mate eenheid te bewerkstellig deur uit te styg bo die partydigheid van politiek.

Terwyl hy onbeskroomd die Afrikaner-saak gedien het, het hy dit gedien met ’n oop hand van samewerking en ondersteuning aan elke ander gemeenskap in Suid-Afrika!

Volhardende, doelgerigte fokus op die beste uitkoms vir almal is die derde les:

hy was bereid om, as staatshoof, die régte beleidsrigting te stel bó populisme.

Sy beleidsrigtings was geskoei in die langtermyn opbou van Suid-Afrika vir elkeen, binne gegewe ruimte vir elke volk.

Hy het nie geswig voor die hedendaagse neiging tot populariteit nie, omdat hy besef het vryheid en welvaart is deel van die langtermyn wandel van lande en volke – nie bloot ’n her-verkiesings bestemming nie.

Les vier – samewerking:

Soos hy die hand uitgesteek het na elke volksgroep, het hy binne die staatkundige raamwerk die hand gereik na die politieke opposisie.

Vir hom was “Suid-Afrika” as staatkundige eenheid belangrik.

Hy was ook deel van die leierskap wat sedert 1948 doelgerig daaraan gewerk het om die ondergeskiktheid aan Brittanje (en Britse belange) te beëindig.

Maar hy het nie geskroom om as staatshoof leierskap uit te oefen nie.

Daar is ook indirekte lesse te leer uit daardie tydvak.

Ons moet inderdaad die hand na ander in ons land uitreik, vir ons gemeenskaplike samewerking;

Maar ons hoef nie onsself, ons saak, ons volk of ons geloofswaardes te verloën nie. 

Inteendeel kan ons land herstel (menslik gesproke) indien ons terugkeer na die sukses-resep van volkseie ontwikkeling – vir elke volk, in ’n eie gebied, onder eie regering!

Ons moet omsigtig kies met wie (en hoe nou) ons saamwerk:

Uiteindelik was baie van doktor Verwoerd se werk ongedaan gemaak juis deur diegene aan wie hy eerbaar uitgereik het – die liberale dampkring in die parlement, die pers en die sakegemeenskap het (terugskouend) net lippediens gegee aan die regering en suksesvolle beleidsrigtings van doktor Verwoerd.

Ons moet volhard:

Elke moontlike plaaslike én internasionale struikelblok is die Verwoerd-regering in die weg gelê, nogtans was die RSA ’n suksesverhaal – onder die genadige beskikking van God.

Vol-sirkel moet ons werk uit en in geloof, tot eer van God!

Ons moet ook leer dat die haat van die wêreld teen elkeen wat vry wil wees, geen perke ken nie.

Op 6 September 1966 moes die leierskap van doktor Verwoerd deur sluipmoord beëindig word – ’n onderduimse aanslag teen beginselvaste leierskap.

Daarom kan ons steeds teenstand verwag.

Maar solank ons die lesse in herinnering hou, solank ons strewe om self daardie voorbeeld van gelowige lewenswandel na te volg, sal die aanslag van die wêreldmag (ongeag die venyn) nie ons vryheid-saak kan ontspoor nie.