Pasop Solomon, Sjina sluk jou in

Taiwan het die afgelope naweek ’n ernstige waarskuwing tot die Soloman eilande gerig dat hulle die prooi kan word van Sjina wat aangebied het om finansiële hulp te verleen.

Sjina het ook voorgestel dat Solomon diplomatieke betrekkinge met Taiwan kanselleer en betrekkinge met Sjina moet aanknoop.

’n Senior parlementslid van Solomon Eilande het gesê die regering oorweeg die moontlikheid om Beijing se voorstel te aanvaar sonder om afstand te doen van Taiwan se diplomatieke verbintenis.

Hy sê Sjina het aangebied om $8.5 miljoen beskikbaar te stel as ’n ontwikkelingsfonds om die finansiële hulp van Taiwan te vervang.

Die Minister van Buitelandse Sake in Taiwan het later gesê daar is ander lande wat Sjina se hulp van soortgelyke aard aanvaar het, en sit nou met ’n vrag skuld wat veroorsaak dat Sjina ’n greep op die lande het.

Kommer bestaan dat ’n meerderheid parlementslede in Solomon ten gunste van die Sjinese aanbod sal wees, wat die verdere magsuitbreiding van Sjina kan beteken.