Oorstromings tref Spanje

Minstens twee mense het verdrink met die geweldige oorstromings wat veroorsaak is met tropiese reëns wat dae lank oor ’n wye gebied uitgesak het.

Doe oostelike deel van Spanje is swaar getref deur die aanhoudende reën en die owerhede moes dringende waarskuwings uitreik dat nog meer reën verwag word.

In die Valencia gebied is dosyne mense vasgekeer waar twee riviere se stormwater oor die walle gestroom het, en noodhulp spanne het moeite ondervind om hulle reddingswerk te doen.

Snelweë wat onbegaanbaar is weens die waterstrome, en voertuie wat deur die watermassa weggevoer is, het menige motoriste in gevaarlike situasies gelaat.

Sekere dele het meer as 300 mm reën gehad, en inwoners sê dit is die ergste oorstromings in 20 jaar wat Spanje tans beleef.