Motor rubriek – Volkswagen Golf TSI R

Die Volkswagen Golf het eintlik ‘n legende geword in die motor wêreld en is sekerlik een van die gewildste en bekendste motors op die pad. Daar sal min, indien enige motor eienaar wees wat nie bewus is van die bestaan van ‘n Golf nie.

Dit is ‘n legende wat sal bly voortbestaan en met die bekendstelling van die nuwe “R” reeks, word dit nog verder gevoer. Die gevorderde tegnologie wat die Volkswagen Ingenieurs inspan sorg daarvoor dat dit ‘n besonderse motor is. Inteendeel dit verhoog sy status nog verder.

Van voor gesien is die “R” kenteken duidelik sigbaar en die chroom strook aan weerskante van die VW kenteken sorg daarvoor dat die afwerking van ‘n besonderse aard is. Die LED hoofligte met die luginlaat aan die onderkant van die sierrooster vorm ‘n eenheid met die voorste buffer en dit vorm weer deel van die voorste modderskerms. Deur gebruik te maak van LED tegnologie is dit moontlik om verskeie veranderings teweeg te bring.

Van die kant gesien sorg die vloeiende lyne dat die sy-aansig in sy geheel, ‘n eenheid vorm met die swart mat afwerking van die allooi wielnawe. Wanneer die voertuig afgeskakel word, vou die kant spieëls weg en is die moontlikheid, sou jy naby aan die voertuig verby beweeg en daarteen stamp, tot die minimum beperk.

Vir die “R” afwerking is daar verskeie opsies vir bybehore afwerking beskikbaar. Dit sluit in die voorste buffer, dak drukvlerk aan die agterkant, 17 duim Madrid allooi wielnawe, glans swart verlengstukke ensovoorts. Wanneer die agterste bak deksel oopgemaak word is daar genoeg bagasie ruimte om ‘n aansienlike hoeveelheid bagasie te neem. Die binne afwerking is van ‘n hoë standaard en daar is genoeg sagte beskerming dat items wat gelaai word, nie beskadig word nie. Die LED agterligte wat deel uitmaak van die agterste deksel vorm ‘n eenheid met die agterste modderskerms. Die vier uitlaatpype vertel natuurlik ‘n storie van hulle eie!

Wanneer die deur aan die bestuurder se kant oopgemaak word, is die onderste gedeelte van die stuurwiel plat en daar kan maklik in die voertuig ingeklim word. Die leer bedekte stuurwiel is van so ‘n aard dat die bestuurder ‘n deeglike greep op dit kan neem en verskeie skakelaars is op die stuurwiel aangebring vir die beheer van toerusting.

‘n Volledige lys van toerusting is geïnstalleer waar onder blinde kol aanduiding tel, verkeer aan die agterkant van die voertuig waarneming, snelheidsbeheer stelsel, nood remstel, sleepwa hulp toerusting en nog ‘n talle ander. Wat persoonlik waardeer word is die Discover Pro aanraakskerm wat deel vorm van die instrument paneel en nie bokant dit uitstaan nie. Van die toerusting wat beheer kan word deur slegs jou vinger oor die skerm te vee, is die beheer van die radio, lugversorger ensovoorts. Op die duidelik leesbare instrument paneel wat reg voor die bestuurder gemonteer is, word ‘n wye reeks van die werking van die toerusting, weerspieël. Die toereteller is aan die linkerkant en die snelheidsmeter aan die regterkant. Sit gerief is van hoogstaande gehalte en verskeie verstellings van die bestuurder se leerbedekte sitplek is beskikbaar en dit is moontlik om ‘n gemaklike sitposisie in te neem. Ondersteuning aan die liggaam word gebied op die regte plekke en dit is moontlik om ‘n “sitkamer” sitposisie in te neem. Vir agterste passasiers is daar meer as genoeg beenspasie en selfs vir “laaang” bene, is daar plek.

Wanneer die enjinkap oopgemaak word, is daar nie veel van die kragbron te sien nie. Wanneer daar na tegniese spesifikasies gekyk word, besef ‘n mens hierdie is ‘n kragbron wat deeglike werk kan doen en daarvoor sal sorg dat die voertuig geniet kan word.

‘n Turbo TSI aangejaagde enjin word gebruik en 213 kW is beskikbaar terwyl ‘n 4MOTION, 7 spoed DSG ratkas ingespan word om die krag na al vier wiele te versprei. Padgedrag is van hoogstaande gehalte en in bergwêreld met kronkelende paaie kom die Golf werklik tot sy reg. Hoewel ‘n rit so effe aan die stywe kant is, is dit nogtans uiters gerieflik.

Hierdie is ‘n motor om te geniet en indien u in die mark is om so tipe voertuig aan te skaf kan u dit gerus op u dit aankope lys plaas vir oorweging. ‘n Besoek aan u naaste Volkswagen handelaar, kan u dalk oorreed, om een aan te skaf.