Motor rubriek – Range Rover Evoque D180 SE R-Dynamic

Wanneer die naam Land Rover gehoor word gaan ‘n mens se gedagtes onwillekeurig terug na die Weermag voertuig van dekades gelede. ‘n Werkesel soos min en dit kon gebruik word op enige moontlike, denkbare terrein.

Die Range Rover Evoque is eintlik ‘n “wolf in skaapsklere”. Dit is een van daardie sportnuts voertuie wat aandag trek oral waar dit beweeg. Dit is sedert 2011 deel van die Land Rover groep en het reeds naam gemaak.

Dit kan op bykans enige terrein gebruik word maar is eintlik in sy element op die snelweg. Wanneer daar na die tegniese spesifikasies gekyk word en die werkverrigting dan besef ‘n mens hierdie is ‘n voertuig van formaat. Die vier silinder kragbron met direkte brandstof inspuiting, turbo aangedrewe, diesel enjin, dubbel oorhoofse nokas met vier kleppe per silinder voorsien maksimum wringkrag van 430 Nm tussen 1750 en 2500 o.p.m. en die krag wat verskaf word is 132 kW tussen 2400 en 4000 o.p.m.

Dit stel die voertuig instaat om van 0 tot 100 km/u te versnel in nagenoeg 9,8 sekondes en alhoewel dit van akademiese belang is, is die topsnelheid 205 km/u.

Hierdie is een van my persoonlike voorkeure en met die dak lyn wat 11 mm laer is as die vorige model, is die sy-aansig nog meer sportief van aard as voorheen. Die sleurkoëfisient is 0,27 en dit weeg 1981 kg. Buitelyne met die agterligte wat om die hoeke van die voertuig gebou is en 20 duim allooi wielnawe met Pirelli Scorpion Zero, 235/50 R20 bande op, sorg dat die Rover ‘n baie aantreklike prentjie navore bring.

Om in die voertuig in te klim is moeiteloos. Die deure maak wyd oop en wanneer daar in geklim word, voel jy tuis en welkom. Die leer bedekte sitplek verleen steun aan die regte plekke op ‘n mens se liggaam en wanneer die sitplek gordels vas is, is kan selfs ruwe terrein besoek word. Die agterste passasiers het gerieflike sitplek met genoeg plek vir die passasiers met lang bene. Die leer bedekte stuurwiel pas gerieflik in die bestuurder se hande en al die instrumente wat regvoor die bestuurder gemonteer is, is duidelik leesbaar deur die boonste gedeelte van die stuurwiel.

Op die stuurwiel is daar verskeie skakelaars gemonteer waarmee die toerusting beheer kan word en ‘n elle lang lys van toerusting wat in sluit ‘n aanraakskerm, radio, lugversorger en nog talle ander handige toerusting. Van die toerusting sluit in sensors wat in die buite spieëls gemonteer is wat aandui byvoorbeeld hoe diep daar in water, modder en sand in beweeg is. Die maksimum diepte is 600 mm en grondvry hoogte is 212 mm. Daar is ook voor en agter kameras gemonteer wat handige inligting aan die bestuurder voorsien.

Die rathefboom van die nege spoed outomatiese ratkas pas gerieflik in die linkerhand en op die instrumentpaneel verskyn ‘n aanduiding van watter rat geskakel is.

Vir die remme word daar gebruik gemaak van geventileerde 325 mm skywe op die voorwiele en 300 mm geventileerde skywe op die agterwiele. Verder hulpmiddels vir die ABS remme is EBD en EBA stelsels. ‘n Wye reeks van veilgheid toerusting is gepas waarvan voor/kant en gordyn lugsakke deel uitmaak. M.a.w. Veilgheid is ‘n hoëprioriteit.

Onafhanklike, MacPherson stutte met spiraalvere en ‘n anti-rol staaf op die voorste veerstelsel en ‘n onafhanklike veerstelsel op die agterste veerstelsel verseker dat die Range Rover op die snelweg/dorp/stad se rygerief van hoogstaande standaard is.

Van voor gesien is die neus gedeelte hoekig en die LED hoofligte vorm deel van die sierrooster en voorste modderskerms met die naam RANGE ROVER op die enjinkap. Luginlate aan die onderkant van die sierrooster en aan die sykante van die modderskerms sorg dat die nodige verkoeling verskaf word.

Aan die agterkant verskyn die naam weereens op die kattebak deksel en wanneer dit oopgemaak word is daar meer as genoeg plek vir bagasie. Die LED remligte verseker dat die Range Rover duidelik sigbaar is van agter.

Vir natuurliefhebber is hierdie die aangewese voertuig want dit is in die bos en op die snelweg ewe tuis. Dit beteken. Sou daarin belangstel om ‘n voertuig van hierdie aard aan te skaf, kan u dit gerus op u aankoop lys plaas en u naaste Land Rover handelaar gaan besoek vir ‘n toetsrit en wanneer daar ‘n 4×4 byeenkoms is kan u dit gaan besoek en dalk net, is daar een wat op die ruwe terrein ingespan word.