Motor rubriek: Mercedes-Benz X350d 4Matic Power 7G-Tronic

Toe dit bekend geword het dat Mercedes die bakkie mark gaan betree, was dit ‘n lang verwagte projek waarna baie Mercedes ondersteuners uitgesien het.

Dit is ‘n gesamentlike projek tussen Nissan en Mercedes en die eindresultaat voldoen aan die vereistes. Vir die samestelling van die kajuit word toerusting gebruik wat in sommige gevalle ooreenstem met die van die motors en dit is ‘n pluspunt vir die bakkie want die kompetisie in die bakkie mark is groot.

Die voorste sitplekke is elektries verstelbaar en dit kan sonder ‘n sleutel binne gegaan en aan die gang gesit word. Groot gedeeltes aan die binnekant is met leer afgewerk. Die luguitlate is kenmerkend van Mercedes en die stiksel van die leer bedekte sitplekke is met wit garing gedoen wat dit ‘n besonderse afwerking besorg. Die aanraakskerm is in die middel van die instrumentpaneel gemonteer en is verteenwoordigend van die verskillende toerusting wat gemonteer is.

Op die rathefboom is die bekende Mercedes embleem aangebring en die rathefboom van die outomatiese ratkas pas gemaklik in die palm van die linkerhand. Die handrem is tussen die voorste sitplekke gemonteer en aan die agterkant van dit is ‘n konsole waarin pakplek vir los item is. Al die toerusting benodig vir so ‘n voertuig is in plek. Radio, lugversorger, elektries beheerde vensters en jy noem dit en dit is beskikbaar. Die veiligheidstoerusting bestaan uit voor en sykant lugsakke met die normale veiligheidsgordels in plek. Op die hoogte verstelbare stuurwiel is skakelaars aangebring waarmee van die toerusting beheer word. Die instrumente is leesbaar deur die boonste gedeelte van die stuurwiel en daar is genoeg plek vir tenminste vyf volwassenes in die dubbel kajuit voertuig. Vir die agterste passasiers met lang bene is daar genoeg plek en ‘n gemaklike sit posisie kan maklik ingeneem word. Om in die bakkie in te klim is daar ‘n sykant trap gemonteer en kan daar met min moeite in die voertuig ingeklim word.

Van voor gesien is die bekende driester embleem van Mercedes opvallend in die middel van die sierrooster gemonteer met LED hoofligte om vir nagritte, die pad te verlig. Kolligte aan die buitekant voltooi die prentjie.

Wanneer die enjinkap oopgemaak word, is die 2987 kub. sentimeter, vier kleppe/silinder, dubbel oorhoofse nokas, turbo aangejaagde, tussen verkoelde, V6 kragbron, bykans nie sigbaar nie. Die kragbron se maksimum wringkrag is 550 Nm tussen 1400 en 3200 o.p.m. en die krag is 190 kW tussen 3400 en 4300 o.p.m. Na verneem word en alhoewel dit nie belangrik is vir ‘n bakkie nie, is dit moontlik vir die bakkie om van 0 tot 100 km/u te versnel in nagenoeg 8,1 sekondes en die maksimum snelheid is 205 km/u.

Die V6 is gekoppel aan ‘n sewe spoed outomatiese ratkas en die stel al vier wiele instaat om die krag na 255/60 R18, allooi wielnawe oor te bring. Continental Contact 6 bande word gebruik en die padhouvermoë vir ‘n bakkie, is van hoogstaande gehalte. Of daar op grondpad of op die snelweg gereis word, die verskil is nie merkwaardig nie.

Die veerstelsel bestaan uit onafhanklike, dubbel wensbeen stelsel, spiraal vere en anti-rolstaaf op die voorwiele en lewendige agteras met skokbrekers en spiraalvere op die agterwiele. Die stuurstelsel wat gebruik word is ‘n tand-rat stelsel en ‘n hidroliese stelsel voorsien die nodige kraghulp. Op die voorwiele is 320 mm, geventileerde skyfremme gepas en op die agterwiele is 308 mm geventileerde skyfremme gepas. Die remstelsel is ‘n ABS stelsel met EBD en EBA ondersteuning.

Die bakkie kan 1000 kg gewig vervoer en die voertuig leeg weeg nagenoeg 2352 kg.

Hierdie voertuig kan gebruik word as ‘n werkesel of “Sondag dorp en kerk” toe bakkie.

Vir meer inligting kan u gerus u naaste Mercedes Benz handelaar gaan besoek en u vergewis van die bruikbaarheid van hierdie voertuig.