Moskou regerende party verloor steun

President Poetin

Die regerende Verenigde Russiese Party het groot steun verloor in die pas afgelope plaaslike verkiesing in Moskou.

Die Party wat die Russiese president, Vladimir Poetin, ondersteun, het ’n hele aantal setels verloor in die Moskou Parlement.

Die taktiese optrede van die opposisie party het skynbaar die knoop deurgehaak en sommer voorkom dat daar met die uitslag gepeuter kon word.

Die verkiesing in Moskou is baie goed gemoniteer en is waarskynlik die eerste groot suksesvolle monitering wat nog in Rusland deurgevoer is.

Die opposisie se kandidate het met die grootste protes in ’n dekade die kiesers se aandag getrek, en die politieke leier Alexei Navalny tesame met sy politieke vennote het daarin geslaag om die regerende party se steun met 30% te verminder.

Politieke ontleders sê die weg is gebaan vir die opposisie om ’n sterk vertoning te lewer in die 2021 nasionale parlementêre verkiesing.

Kommer bestaan egter oor die feit dat die Kommunistiese party ook veld gewen het, en sy vorige 5 setels het gegroei tot 13, wat ’n aanduiding is van groter ontevredenheid met die regerende party.