Iran se olietenkskip nog koersloos

Die olietenkskip van Iran, die Grace 1 wat na Adrian Darya herdoop is, bly steeds rond vaar op see in die hoop dat hy sy vrag ru-olie iewers kan verkoop.

Die skip wat koers gekies het na Turkye, het die naweek weer weggedraai en koersloos verder gevaar.

Die koersverandering is deur ’n skeep-opsporing organisasie bevestig wat gesê het die reuse skip met sy enorme vrag olie het weggedraai van die Turkse kus.

Die Grace 1 is weke gelede deur die Gibraltar owerheid aangehou nadat die olieskip wederregtelik die olie aan Sirië wou lewer terwyl dit ’n oortreding van die VN se sanksie resolusie is.

Later is die skip vrygelaat, en het Iran dit as ’n morele oorwinning beskou, maar nou is die skip reeds twee weke op see, sonder ’n bestemming, en vaar rond van een gebied na die ander.

Verlede week het eienaars van die skip beweer dat Iran die olie verkoop het, maar geen koper se naam is genoem nie en die opsporings organisasie wat die skip 24 uur per dag monitor, sê die skip kon nêrens die olie verkoop het nie.

Gedurende die afgelope naweek het die Grace 1 weer van koers verander, terug na die Turkse kusgebied.

Die Grace 1 dra ’n vrag van meer as 2 miljoen vate olie, en die aflewering daarvan aan enige land sal beteken dat die VSA sanksies instel teen die koper.