Die deugsaamheid van nasionalisme

Mediaverklaring – Calvinistiese Alliansie

Met dankbaarheid kon lede van die Calvinistiese Alliansie ons sesde jaarlikse kongres bywoon op die herdenkingsdatum van Bartholomeüsnag, 24 Augustus 2019.

Omdat die Alliansie strewe na die hernieude erkenning van God se soewereine beskikking oor elke lewensterrein van ons lede en in ons volkslewe (in wese ’n God-gefokusde lewenswyse en -beskouing, algemeen bekend as ‘calvinisme’) is goedgekeur dat ons, ons stem sal laat hoor oor ’n baie aktuele saak.

In ’n tydwrig van staatkundige verval, politieke chaos en ooglopende gebrek aan leierskap soek mense antwoorde – volks-bewustheid, of nasionalisme, herontwaak!

Getrou aan ons roeping, aan ons Alliansie se bestaandoel, wil ons dus lede én volksgenote heenwys na die die enigste Bron van kennis (oplossings) en leierskap (gesag) wanneer ons die vraagstukke van ons tyd onder bespreking neem.

Na die sondeval leef die mensdom in spanning tussen:

eendersyds die skeppingsorde en genade-beloftes (roeping, verbond, vreedsame naasbestaan) wat ons ken uit God’s Woord;

andersyds die sonde-opstand van ’n imperiale wêreldorde (selfgelding, heerslus, chaotiese uitbuiting) wat tekenend is van elke magsryk wat deur die geskiedenis gepoog het om die skeppingsorde omver te werp, tekenend van wat ons tans beleef.

In die verloop van die volkere-geskiedenis ontplooi hierdie spanning in die teenpole van nasionalisme en imperialisme:

Nasionalisme – waardering vir die God-gegewe volkere-verskeidenheid, erkenning van unieke kultuur-erfenis en ’n strewe na die orde en voorspoed waartoe roepings-gehoorsaamheid gelowige volke die geleentheid bied.

Imperialisme – die eeue-oue, sondige strewe na een wêreldorde; meermale ervaar die mensdom in imperialisme die straf vir selfverheerliking en voortspruitende chaos juis omdat imperialisme die skeppingsorde misken en aanbidding verplaas.

Uit ons eie geskiedenis, met inbgebrip die geskiedenis van ons stamlande tussen die Hervorming en Volksplanting, kon ons volk deur die eeue eerstehands die deugsaamheid van nasionalisme ervaar, ook die ondermynende effek van imperialisme in die vorm van kolonialisme en tragies die wrang vrugte wanneer nasionalisme verabsoluteer word.

En juis die skakel met die era ná die Hervorming van die sestiende eeu is die sleutel waarmee ons die deugsaamheid van nasionalisme kan ontsluit.

Omdat God se skeppingsorde voorsiening maak vir volke, tale, grense oor tyd, is dit belangrik om te verseker ons anker ons nasionalisme in die Woord (wil) van God.

Christelik-nasionaal is daarom die sleutel.

Na die suiwerende Noag-geskiedenis herhaal God sy opdrag van vul die aarde, om dit te bewoon, bewerk en bewaar – en die imperiale vergryp van Babel word verydel wanneer volke en tale ontstaan – God se genade-antwoord om die mens teen sy eiewilligheid te beskerm.

Reeds in Abram se roeping vind ons ’n bevestiging van volk en land – die verbondsvolk wat hier in die vooruitsig gestel word sou uiteindelik groei tot ’n volk wat tyd en plek sou oorskrei, wat so groei van algemene na besondere genade.

Nogtans word die huidige lewe se verskeidenheid nie opgehef nie.

Deur die eeue sou volksroeping in botsing bly met wêreld-oorheersing – monargistiese ryke sou tragies ook teelaarde vind in die Roomse kerk-ryk, wat sou lei tot die imperiale ryke van Rooms-gesinde moondhede in meer onlangse eeue.

Die Protestantisme was grootliks nasionalisties in aard: tydens die Hervorming sou die terugkeer na die suiwer verkondiging en toepassing van die Woord veral in nasionale (volks-) verband momentum kry; deur eie taal het gelowiges die Evangelie waarhede her-ontdek en die herlewing van volks-nasionalisme het die verspreiding van die Hervorming moontlik gemaak – tot aan die Suidpunt van Afrika.

Vooruitgang sedert die sestiende eeu is sprekend van die deugde van vaderlandsliefde, hardwerkendheid en vryheid.

En te midde van die huidige chaos – die vrug van die verligting en ’n globale strewe na een wêreldorde, beleef ons ’n herlewing van volks-bewustheid.

Daarom is dit belangrik dat ons vandag – ook in Suid-Afrika – sal breek met die mislukking van die eenheid-staat;

opnuut sal terugkeer na die beginsels van God se skeppingsorde;

opnuut sal terugkeer na God se Woord as normatief in ons soeke na oplossings;

opnuut sal strewe om die deugsaamhede van Christelike nasionalisme in ons volk te her-vestig.

Dit mag ons DV in staat stel om terug te keer na ’n bedeling waarbinne die owerheid Christus eerste sal stel, op élke lewensterrein;

om weer ’n  volk te word wat diens aan God voorop stel;

om weer ’n volk vír God te word, opgebou uit verbondsgesinne.

’n Volk wat uit waardering vir die eie tradisies en simbole sal lewe as voorbeeld, nie ’n  gevaar nie, vir ander volke.

Want buite God se orde is daar geen deugde te vind nie:

gehoorsaamheid aan die spreke van God se Woord ondersteun ongetwyfeld nasionalisme, Christelike nasionalisme waardeur gelowige volke God opnuut dien volgens die voorskifte van sy Woord.