As die Vryheidstrewe sterf

Dit is nie die massas van ’n volk wat die vryheidstrewe lewendig hou nie, maar die kleiner deel van die volk wat onwrikbaar glo aan die Bybel opdrag dat volke en nasies in afsonderlike gebiede moet woon om vrede te bewaar.

Talle volke van die wêreld, waaronder ons volk tel, is van hulle vryheid beroof, en alhoewel die redes daarvoor verskil, is die werklikheid steeds staande te midde van ’n sogenaamde tyd waarin menseregte so belangrik geword het.

Die onlangse berigte in Die Vryburger oor die stryd van die Kataloniërs in die noordelike deel van Spanje, is ’n sprekende voorbeeld van stryd wat lewendig gehou word omdat vryheid ononderhandelbaar is vir die volk.

Die Kataloniërs is redelik bymekaar in ’n bepaalde gebied, en dit kan die vryheidstryd aansienlik vergemaklik, alhoewel die Spaanse regering hoegenaamd nie gewillig is om die welvarendste deel van die land af te staan aan die bewoners  daarvan nie.

Hierteenoor is die Afrikaner se vryheidstryd veel moeiliker – want sy grondgebied is hom ontneem, nie deur oorlog of geweld nie, maar deur die vrywillige oorgawe van sy eie mense wat as leiers opgetree het.

Die stryd wat gevoer moet word, is een van moeisame, duur, en slegs die optrede van ’n klein kerngroep wat nie sal bes gee nie, maar wie se vermoë uiters beperk is.

Hoe moeilik dit mag wees, bly dit belangrik dat daardie kern van die volk se stryders nie oor die jare moet handdoek ingooi nie, maar gedurig die strydrs aanvul uit die geledere van die jonger garde.

As die stryd ophou, sterf die volk, en ’n sterwende volk kry nêrens simpatie of hulp nie. Die Koerdiese volk toon aan die wêreld dat hulle strewe na vryheid nimmer gedemp gaan word, en alhoewel hulle op ander volke se grondgebied woon, bly die strewe na vryheid in ’n eie begrensde grondgebied lewendig en onuitwisbaar.

Mag die Boere-Afrikaner van hierdie land nooit sy strewe na ’n eie soewereine staat versaak soos wat in 1994 gedoen is deur ’n paar papbroeke nie.