VSA sal optree teen Iran

Minister Mike Pompeo

Die Verenigde State van Amerika sal stappe neem teen Iran indien die land se olieskip, die Grace 1, met sy groot vrag olie aan boord, sou poog om dit by Sirië af te laai.

Die waarskuwing het die Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake, Mike Pompeo, gerig aan Iran wat sukkel om van sy vrag olie ontslae te raak.

Daar bestaan tans ’n resolusie van die Verenigde Nasies wat bepaal dat internasionale sanksies teen Sirië steeds van krag is, en enige land se pogings om dit te ignoreer en handel wil dryf, is ’n ernstige oortreding.

Die Grace 1 olietenkskip vaar tans rond in ’n poging om sy reuse vrag olie afgelaai te kry, maar Westerse lande sal nie die olie koop nie uit vrees vir Amerikaanse optrede teen hulle.

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het gewaarsku dat lande wat olie by Iran koop, deur die VSA sanksies getref sal word.

Grace 1 was onderweg na Sirië met die olie toe beslag gelê is op die skip by Gibraltar, en sedertdien sukkel Iran om ’n bestemming te vind waar hy die olie kan aflaai.