Skotte ten gunste van onafhanklikheid

Indien die Slotte nou na die stembus sou gaan, sal diegene ten gunste van onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk, ’n oorwinning behaal.

Michael Ashcroft het die eerste groot peiling gedoen wat nou gepubliseer is van die kiesers van Skotland se oortuigings.

Net meer as 46% van die deelnemers het gesê hulle is ten gunste van onafhanklikheid, teenoor 43% wat daarteen gekant is. Die oorblywende 11% is nog onseker, en dit kan die skaal na enige kant laat sak.

Indien die telling slegs gedoen word tussen die kiesers wat reeds ’n besluit geneem het, is 52% ten gunste en 48% gekant teen onafhanklikheid.

Skotland het in die referendum van twee jaar gelede ’n meerderheid stemme uitgebring om nie uit die Europese Unie te tree nie, maar met die Britse premier, Boris Johnson se vasbeslotenheid om die EU op 31 Oktober te verlaat, is Skotland nie meer gretig om deel van die Verenigde Koninkryk te bly nie.

Die Skotland Nasionale Party sê die Britse premier sleep Skotland saam uit die Europese Unie teen sy eie wil, en dit regverdig die hou van ’n referendum oor onafhanklikheid.