Perspektief: Rotsvaste anker – ook in óns taal

Op 27 Augustus het ’n herdenking grootliks stil verby gegaan – tog was dit verblydend om die juweeltjies van onthou en koester raak te sien.

“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. … En die Woord … het onder ons gewoon –“

“Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande. … Die wet van die HERE is volmaak:”

“… voordat die hemel en aarde verbygaan, sal nie een jota of titteltjie van die wet ooit verbygaan …”

“Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.”

“So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.”

“Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.”

Danksy die werk begin deur die GHA (herdenk op 14 Augustus) is ons eie moedertaal ontwikkel.

Uit die staanspoor het die Afrikaner se Christelike bewussyn en identiteit on taal-ontwikkeling gelei – die Woord van God in ons eie taal was een van die eerste ideale.

Daardie Woord wat tasbaar deel van ons voorsate se lewe was:

Ter plaatse aan wal gebring in 1652; altyd deel van elke gesin se mondering, op reis in die wakis, lewens-kompas by huisgodsdiens en erediens.

Ons stamvolke was erfgename van die Hervorming, en ons volk is geplant deur die beskikking van God as Christelike volk, letterlik met Sý Woord in ons hand en hart.

Deur die genade is vir ons volk leiers beskik soos Totius, vader Kestell, bygestaan deur drr. Fourie, van Rooyen en Keet, asook etlike ander medewerkers. (naas die talle wat gearbei het vir die ideaal sedert 1876)

En op 27 Augustus 1933 is die Afrikaanse weergawe van die Bybel hier in gebruik geneem: Van toe af sou die Afrikanervolk “die groot dade van God in hul eie taal hoor” – en sedertdien kon geslagte in hul Moedertaal die koesterende troos geniet wat slegs hierdie anker-Woord kan bied.

Wanneer ons in 2019 as volk voor vele uitdagings staan, laat ons onthou dat ons voorsate deur elke diep dal van besoeking vasgehou het aan hierdie één rotsvaste anker.

Hierdie Woord is lewend, maar ook lewegéwend vir elke ware gelowige.

Hierdie Woord is ewig en leer ons die onuitspreeklike troos dat God – ons Beskermer – is ewig, onveranderlik, genadig en regverdig, almagtig, die énigste Beskikker oor die ganse skepping en verloop van die wêreldgeskiedenis.

Uiteindelik sál elke knie buig …

Laat ons daarom opnuut ons vertroue en hoop vestig in die rotsvas anker van die HERE wat hemel en aarde gemaak het, wat ons bewaar tot in ewigheid;

laat ons opnuut dankbaar ons toevlug neem en deur ons taal en ons ganse volkslewe Hom alléén alle eer bewys.