Perspektief: Quo vadis – terug na die moeder as rolmodel

Die volkshuishouding word gebou deur verbonds-gesinne: so het God dit beskik, so het ons voorsate dit uitgeleef.

Terwyl die wêreld om ons hierdie week “vrouedag” vier, behoort élke volks-gesin hulleself opnuut verbind om die vroue-rolmodel in hulle lewens opnuut te koester:

Elke moeder is die rots waarop ons ’n verbonds-gesin vestig.

Daarvoor is sy geskape: die gepaste maat vir haar man, die moeder vir haar kinders.

Moeders koester die huis, bied die sagte geborgenheid waarbinne haar gesin kan rus van die wêreld se aanslag.

Sy is versorger, sy begelei haar kinders aan moedersknie na die suiwer geloofslewe wat verbonds-gesinne kenmerk.

Sy is die sagte kant van die ouerhuis, wat saam met haar man as vader hierdie grootse roepingswerk – om die volgende geslag gelowiges op te voed namens hulle hemelse Vader – verrig. 

‘n Onbeskryflike voorreg!

Ons moet daarom opnuut waardeer dat moeder-wees voorwaar ‘n eerbare roeping verteenwoordig, ook dat dit geweldig baie verg om Bybelse “moeder” te wees.

Elke man, elke kind is die opperste waardering verskuldig vir elke opoffering wat die moeders in hulle lewens maak.

Terwyl elke ware moeder haar volle vervulling en roepings-blydskap in moederskap vind, is uitgesproke en gedemonstreerde waardering onontbeerlik.

Die belang vir ons volk is (tragies) te sien in die groeiende afwesigheid van Bybelse moederskap in soveel gesinne.

(hiermee verwys ek geensins na daardie moeders wat moet werk nie, of moeders wat alleen moet worstel nie – hulle moet des te meer ons dank en waardering geniet)

Maar té veel vroue word verlei deur die wêreldse beeld van die “suksesvolle” vrou, die “vrou wat haarself handhaaf”.

Dit is nie net ‘n drogbeeld nie – dit is die verfoeilike afgodery van feminisme!

Dit is roepings-versaking!

Ons herdenk ook die volks-moeders van weleer: inderdaad was dit die staal-wil van vroue en volks-moeders wat meermale huis en haard moes oppas terwyl manne en seuns gaan veg het vir ons vaderland – tot so onlangs as 1989!

Terwyl ons volks onberekenbare verliese gelei het in Engelse doodskampe, het meer oorleef danksy die moeders wat trou op daardie front geveg het.

Inderdaad is elke moeder daarom ook ‘n volks-bouer, onontbeerlik vir die herbou van ons volk en ons land!