Nuwe skoolgeboue kom dalk nooit

’n Opvoedkundige het aan Die Vryburger gesê die moontlikheid van genoeg skole en klaskamers vir Suid-Afrika se leerders gaan nooit kom ni.

Hy wys daarop dat die swart skole oorbevolk is omdat daar nie genoeg skole is om hulle te akkommodeer nie, maar nuwe skol sal nie die groot probleem aanspreek nie.

Hy reken die grootste hindernis is die feit dat daar hoegenaamd nie genoeg swart onderwysers is nie, en die wat wel in die klaskamer is, is nie altyd goed genoeg opgelei om die leerders suksesvol te onderrig sodat hulle naskools opgelei kan word as onderwysers nie.

Hy sê die krisis in swart onderwys sal nie opgelos word as die owerheid nie doelgerig fokus op die opleiding van baie onderwysers nie.

Die ernstige tekort kan slegs oorkom word met die daarstelling van onderwys opleidingskolleges soos wat Suid-Afrika vir baie dekades met sukses sy onderwyskorps gevoer het.

Dit is onsinnig om nuwe skole op te rig terwyl daar nie onderwysers is wat die skool kan beman nie, het hy gesê.