NGP weer in die nuus

Die ANC se Nasionale Gesondheidsplan (NGP) is weer in die nuus nadat die party se woordvoerder gesê het die skema sal met “verstandigheid” geïmplementeer word.

Met die aankondiging, sonder om nuwe besonderhede te bied, het die ANC weereens die rookwolke laat styg, se geneeshere wat besig is om hulle goed te pak om die land te verlaat.

Die uiteindelike koste, wanneer die plan ten volle in werking is, kan soveel as R400 miljard per jaar beloop, wat volgens die beplanners slegs ’n “klein verhoging” van inkomstebelasting vir die individue sal meebring.

Deskundiges sê die ANC het behep geraak met ’n idee wat nie sal werk solank as wat die hospitale en gesondheid klinieke in die huidige chaotiese toestand is, die werkloosheid steeds by 30% is, en die land se kundigheid om die omvattende diens te bestuur, steeds ontbreek.

Die belofte dat die Plan geleidelik in werking gestel gaan word, is slegs ’n wortel voor die belastingbetalers, en wanneer die mislukkings sy tol eis, is omdraai nie moontlik nie.