Motor rubriek: Opel Corsa 1.4T GSi

Wanneer ‘n mens die naam Opel hoor of sien gaan jou gedagtes onwillekeurig terug na die jare van die Super Bos. Dit was ‘n blitsbuks van formaat en het sy naam gestand gedoen. Met die Corsa 1.4T kan dieselfde weer gebeur. Ongelukkig kom Opel motors nie heeltemal tot hulle reg nie maar daar is altyd plek vir verbetering. Dink maar aan die Adam. Dit is eintlik ‘n “kostelike” motor en die bouvorm daarvan trek altyd aandag waar dit ookal beweeg.

Daar word voorspel dat die Corsa die potensiaal het om tot sy volle reg te kom in die toekoms. Van voor gesien, met die luginlaat aan die onderkant van die enjinkap die bekende Opel blitskenteken op die mat swart sierrooster, is dit duidelik dat hierdie ‘n motor is wat die werk met gemak kan verrig. Die enjinkap en die voorste venster vorm ‘n eenheid wat verseker dat die die wind sleurkoëifisient baie laag is. Ma.w. die wind weerstand word tot die minimum beperk. Die hoofligte vorm deel van die voorste modderskerms terwyl luginlate aan die onderkant van die modderskerm weer hulp verleen met die verkoeling van die voorste remskywe.

Word daar om die motor beweeg trek die sierlike lyne van die bak dadelik die aandag. Daar is slegs twee deure en die deur handvatsels is dieselfde kleur as die res van die motor. Die bouvorm van die sykant spiëels is van so ‘n aard dat die windweerstand ook die minimum is. 18 duim, allooi wielnawe huisves Michelin Pilot Sport, 215/40 R18 bande en daar is nie ‘n noodwiel nie maar wel die nodige middele om ‘n band te herstel.

Aan die agterkant is die agterligte verantwoordelik daarvoor dat die agterkant van die motor ‘n besondere eenheid vorm met die drukvlerk wat hulp verleen en sorg dat die padhouvermoë van uitstaande gehalte is. Word die kattebak deksel oopgemaak is daar 224 liter pakplek beskikbaar wat vermeerder kan word tot 856 liter wanneer die nodige verstellings aan die agterste sitplek gedoen word. Die binne afwerking aan die agterkant is van hoogstaande gehalte en wanneer die voordeure oopgemaak word, word dit voortgesit.

Die onderste gedeelte van die elektries verhitte stuurwiel is plat en dit help dat daar met min moeite in die voertuig ingeklim kan word. Die instrument paneel se uitleg is prakties en alle toerusting is binne maklike bereikbare afstand. Op die stuurwiel is verskeie skakelaars aangebring om die toerusting mee te aktiveer. Die Recaro sitplekke is gerieflik en al die nodige ondersteuning word op die strategiese plekke van die liggaam voorsien. Verskeie verstellings is beskikbaar om te verseker dat die sitplekke vir die meeste gerief verstel kan word. Van die toerusting wat voorsien is sluit in waarskuwings vir wanneer daar van baan op die pad verander word tot ‘n moontlike botsing waarskuwing en nog talle ander.

Wanneer die voertuig aangeskakel word, is dit duidelik hoorbaar dat hierdie ‘n motor is om te geniet. Die 1364 kub. sentimeter, dwars gemonteerde, vier silinder, turbo aangejaagde, 16 klep met tussen verkoeler, petrol enjin sorg dat daar 110 kW krag tussen 5000 en 6500 o.p.m. beskikbaar is en die wringkrag is 220 Nm tussen 3000 en 4500 o.p.m. Dit stel die motor instaat om onder die 10 sekondes te versnel van 0 tot 100 km/u en die topsnelheid is na verneem word in die omgewing van 207 km/u.

Die remstelsel is van hoogstaande standaard en die geventileerde 308 mm remskywe op die voorwiele en soliede 264 remskywe op die agterwiele, ABS remstelsel met EBD en EBA hulp, sorg dat die Opel met gemak en veiligheid tot stilstand gebring kan word.

Elektries ondersteuning aan die stuurstelsel met MacPherson stutte met spiraalvere op die voorste veerstelsel en ‘n wringstaaf met spiraalvere, sorg dat die padgedrag van hoogstaande gehalte is. Of daar in die dorp of stad gereis word, dit pas oral goed in. Op die snelweg is dit natuurlik in sy element en met die Michelin bande gepas, kan kronkelende paaie in berge wêreld werklik geniet word. Dit klou letterlik en figuurlik soos ‘n neet aan die teer oppervlakte.

Hierdie is die ideale motor vir ‘n eerste of tweede motor en u kan dit gerus op u aankopelys plaas en u naaste Opel handelaar gaan besoek om u te vergewis van die waarde daarvan. Geniet u Opel Corsa 1.4T GSi.