KragDag 2019 is reuse sukses


Die Landbou Ekspo wat vanjaar vir die eerste maal tydens die Sakeliga Kragdag – in samewerking met TLU SA – aangebied is, was ‘n reusesukses.
Die jaarlikse Kragdag-verrigtinge is vanjaar vir die elfde keer tussen 8 en 10 Augustus by die Diamantvallei Landgoed, oos van Pretoria aangebied. Dié geleentheid – die skepping van HP Steyn en sy span – is die voorloper oor hernubare energie en selfstandige kragbenutting in Suid-Afrika en die grootste Afrikaanse ekspo van sy soort, ter wêreld.
Die Landbou Ekspo het ‘n verskeidenheid aanbiedings en aktiwiteite oor boerdery-aangeleenthede in die twee landbousale op die Landbou Sub-Ekspo terrein, gehuisves. Verder is ‘n slaglamkompetisie en die Toyota Afslaers streekskampioenskappe ook tydens die verrigtinge aangebied.
“TLU SA is hoogs in ons skik met vanjaar se KragDag-geleentheid,” sê mnr. Louis Meintjes, die President van TLU SA. “Ons is ook baie opgewonde oor die potensiaal van die landbou-sy en is oortuig dat dit in die toekoms nog meer hoogtes sal bereik.
“Ons wil graag ‘n groot woord van dank rig aan die organiseerders en elkeen wat gehelp het met die reëlings van hierdie grootse taak. Ons wil verder ook elke besoeker bedank wat bygedra het om KragDag een van die hoogtepunte van die jaarlikse Pretoria-kalender te maak,” sê hy.
Die besoekerstal van KragDag het vanjaar tot sowat 21 400 toegeneem. Die Landbou Ekspo het baie aandag getrek en werkbare oplossings en idees aan menige bestaande, voornemende en kleinboere gelewer